GELOOFSTELLINGS
van die
United Kerk van God
God die Vader, Jesus Christus en die Heilige Gees
Die Woord van God
Satan die Duiwel
Die Mensdom
Sonde en God se Wet
Die Offer van Jesus Christus
Drie Dae en Drie Nagte
Bekering
Die Doop
Die Sabbatdag
Die Pasga
Die Feeste van God
God se Voedselwette
Militêre Diens en
Oorlog
Beloftes aan
Abraham
God se Doel vir die
Mensdom
Die Kerk
Tiendes
Die Opstandings
Die Wederkoms van Jesus Christus
Voorwoord:
Hierdie is ʼn baie kort samevatting
van die hoof leerstellings van die United Kerk van God. Indien u ʼn meer
in-diepte studie van ʼn onderwerp wil maak, klik net op die skakel/s aan
die einde van die betrokke hoofstuk en meer volledige leesstof oor die betrokke
onderwerp sal op u rekenaarmonitor verskyn. (Hierdie in-diepte leesstof is tans
slegs in Engels beskikbaar, maar vertalings in Afrikaans geniet prioriteit.)
Bybel: Die Ou Afrikaanse Vertaling van 1933/1953 word deurgaans gebruik. (Enige uitsonderings word aangedui.)
God die Vader,
Jesus Christus en die Heilige Gees
Ons glo in een God, die Vader, wat van alle ewigheid af
bestaan, wat Gees is, ʼn persoonlike Wese wat oor die allerhoogste
intelligensie, kennis, liefde,geregtigheid, mag en gesag beskik. Hy is die
Skepper van die hemele en die aarde en alles wat daarin is, deur Jesus
Christus. Hy is die Bron van alle lewe en die Een vir wie die mensdom geskape
is. Ons glo in een HERE, Jesus Christus van Nasaret, wat “die Woord” genoem
word en wat van ewigheid af bestaan. Ons glo dat Hy die Messias is, die
Christus, die goddelike Seun van die lewende God, verwek deur die Heilige Gees,
gebore uit die menslike vlees van die maagd Maria. Ons glo dat God die Vader
alles deur Jesus Christus geskape het want “alle dinge het deur Hom ontstaan,
en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan nie.” Ons glo in die
Heilige Gees as die Gees van God en van Christus. Die Heilige Gees is die krag
van God en die Gees van die ewige lewe (2 Timoteus 1:7; Efesiërs 4:6; 1
Korintiërs 8:6; Johannes 1:1-4; Kolossense 1:16).
Ons glo dat God se soewereiniteit oor die ganse heelal geld,
en dat Hy as die Allerhoogste oor alles regeer. God is gees (Johannes
4:24), en bestaan in ʼn ryk wat verskil van dié van die mens, wat vlees
is. Ons begrip en persepsie van God is gegrond op Sy openbaring van Homself
deur Sy geskrewe Woord, die Bybel.
Die Bybel openbaar God as die “Vader” en Jesus Christus as Sy “Seun.” Die onderskeid tussen
die twee is reeds aan die begin van God se openbaring (Genesis 1:1) al
duidelik, waar die Hebreeuse woord Elohim gebruik word (Elohim is
die meervoud van die Hebreeuse woord vir God, Eloah). Daar was van die
begin af kommunikasie tussen hierdie twee Wesens, soos die voorbeeld in Genesis
1:26 toon. Hier word die voornaamwoord “ons” verskeie kere gebruik en verwys na
Elohim.
Die Ou Testament fokus op die God van Israel, wat Homself
identifiseer as “EK IS” en “die HERE, die God van ... Abraham ... van Isak en
... van Jakob” (Eksodus 3:14-15). (Die woord HERE word afgelei van die
Hebreeuse YHWH). In Johannes 8:58 verwys Christus na Homself as “Ek is.”
Hierdie is dieselfde God wat die Israeliete uit Egipteland uitgelei het
(Eksodus 20:2), hulle in die wildernis begelei het, en wat later in die Nuwe
Testament as Jesus Christus
bekend was (1 Korintiërs 10:4). Beide die Ou en die Nuwe Testamente verwys
na meer as een Persoon in die Godheid (by voorbeeld, Psalm 110:1, wat in
Handelinge 2:29-36 aangehaal word). Die Nuwe Testament identifiseer Hulle as
God die Vader en Jesus Christus die
Seun (1 Korintiërs 8:6). Die Seun word ook God genoem (Hebreërs 1:8-9).
Jesus Christus word
die “Woord” genoem, wat in die begin “by God” was en ook as “God”
geïdentifiseer word (Johannes 1:1-2). Hy het alle dinge geskape (verse 3, 10),
en het later vlees geword en onder mense gewoon (Johannes 1:14). Hy word ook
“die eersgeborene onder baie broeders” genoem (Romeine 8:29). Die mens het die
wonderlike potensiaal en voorreg om deel te kan word van die God-familie
(Romeine 8:14, 19; Johannes 1:12; 1 Johannes 3:1-2).
Die verwantskap tussen die Woord en die Vader word
duideliker in die Nuwe Testament omskrywe: “die Woord het vlees geword”
(Johannes 1:14; Filippense 2:5-11); Hy het die Vader aan Sy dissipels
geopenbaar (Matteus 11:25-27); is vir die vergiffenis van ons sondes geoffer,
het uit die dood opgestaan en is nou weereens deur die Vader verheerlik
(Johannes 17:5) en sit aan Sy regterhand, vanwaar Hy sal kom om te oordeel die
lewende en die dode.
Die Nuwe Testament beklemtoon die eenheid tussen die “Vader”
en “Seun,” maar maak tog die onderskeid tussen die twee duidelik in veelvuldige
skrifture (bv. Johannes 20:17; Romeine 15:6). Ons lees in Efesiërs dat God “alles
geskape het deur Jesus Christus”
(Efesiërs 3:9; lees ook Hebreërs 1:1-3). Die verwantskap tussen die Vader en
die Seun toon God se volmaakte en ewige leefwyse. Die Vader het die Seun voor
die grondlegging van die wêreld liefgehad, en die Seun het die Vader nog altyd
liefgehad (Johannes 17:4; 20-26).
Die absolute harmonie tussen die Vader en die Seun is ʼn
eenheid van gesindheid, koersvastheid en doelgerigtheid, wat Jesus Christus die Vader gevra het om ook tussen Sy
dissipels, Homself, en die Vader te bewerkstellig (verse 20-23).
Die naam “God,” soos in die Bybel gebruik word, kan ʼn
verwysing wees na óf die Vader (bv. Handelinge 13:32-33; Galasiërs 4:6), óf na Jesus Christus die Seun (bv. Jesaja 9:6; Johannes
1:1, 14), of albei (bv. Romeine 8:9), afhangend van die teksverband van
die skriftuur. Die krag en gees wat uit God uitstraal, word die Gees van God of
die Heilige Gees genoem (Jesaja 11:2; Lukas 1:35; Handelinge 1:8; 10:38; 2
Korintiërs 1:22; 2 Timoteus 1:7). Die Heilige Gees van God word nie as
ʼn derde persoon in ʼn drie-eenheid geïdentifiseer nie, maar word
konsekwent as die geestelike mag van God beskryf. Die Heilige Gees word aan die
mens gegee wanneer ʼn persoon tot bekering kom en gedoop word (Handelinge
2:38) om as ʼn “onderpand” (of “deposito”) te dien (2 Korintiërs 1:22; en
5:5; Efesiërs 1:14). (Vir ʼn meer breedvoerige inligting oor die Heilige
Gees, vra gerus ons gratis artikel, “Wat is die Heilige Gees?” aan)
God wil hê ons moet Hom ken sodat ons vertroue in Hom kan hê en Hom sal liefhê. Hy het baie meer oor Homself onthul deur die name wat Hy aan diegene openbaar het met wie Hy deur die eeue heen gewerk het. Hierdie name openbaar dat God opperste intelligensie besit, mag, heerlikheid en wysheid; dat Hy die verpersoonliking van alle geregtigheid, volmaaktheid en waarheid is; dat Hy die hemele en die aarde besit; dat Hy almagtig en onsterflik is en alle lof waardig is. God is ons voorsiener, geneser, skild, verdediger, raadsman, leraar, wetgewer, regter, ons krag en verlosser. Hy is getrou, genadig, vrygewig, geduldig, goedhartig, regverdig en barmhartig. God verhoor ons gebede, gaan ʼn verbond met ons aan, is ʼn toevlug in nood, gee vir ons kennis en begeer om vir ons onsterflikheid te gee sodat Hy ook die ewige lewe met ons mag deel.
Ons glo dat die Skrif, beide die Ou en Nuwe Testamente, God
se openbaring en die uitdrukking van Sy volkome wil aan die mensdom is. Die
Skrif is geïnspireer in gedagte en woord, onfeilbaar in die oorspronklike
Geskrifte; die allerhoogste en uiterste gesag in die geloof en die lewe, en
die grondslag van alle waarheid (2 Timoteus 3:16; 2 Petrus 1:20-21;
Johannes 10:35 en 17:17).
Die Ou en Nuwe Testamente vorm saam ʼn eenheid om God se
verlossingsplan aan die mensdom te openbaar en te volvoer. Die Bybel in
totaliteit openbaar God se genadiglike ingryping om die mensdom te red sodat
hulle uiteindelik die ewige lewe in Sy Familie kan beërwe. Elke skrywer in die
Bybel se individuele persoonlikheid, styl en woordeskat word in hulle
verskillende boeke weerspieël. Hulle het egter geskryf soos die Heilige Gees
hulle geïnspireer het (2 Petrus 1:21). God het dus die verstand van Sy
diensknegte beïnvloed en gelei, maar hulle tog vryheid van uitdrukking
toegelaat terwyl hulle die boeke geskryf het wat gesamentlik bekend staan as
die Woord van God.
Die Heilige Skrif is die enigste grondslag van kennis en
waarheid wat Jesus en die apostels as basis gebruik het om God se weg tot
saligheid te leer. In die eerste plek het Jesus
Christus
die voorbeeld gestel deur die Skrif as die uiteindelike gesaghebbende teks in
ʼn Christelike lewe na te volg. Toe Hy die versoekings van Satan suksesvol
teengestaan het, het Christus gesê, “Die mens sal nie van brood alleen lewe
nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” [ons eie
beklemtoning] (Matteus4:4, Lukas 4:4; Deuteronomium 8:3). Christus het ook
ander Skrifture aangehaal tydens Sy stryd teen die aartsvyand, die duiwel
(Matteus 4:7, 10).
Daarna het Christus Sy aardse bediening begin deur die Skrif
te lees en te verklaar, bv. “Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul”
(Lukas 4:16-21). In Johannes 10:35, het Christus verklaar dat “die Skrif nie
gebreek kan word nie.” Hy het die Skrif as ʼn aktiewe, gesaghebbende bron
in Sy lewe toegepas (Johannes 7:38; 42). Niks kon Christus se aandag van die
Skrif aftrek nie––nie verraad, of selfs Sy kruisiging nie (Johannes 13:18;
17:12; 19:28; Matteus 27:46; Psalm 22:2; Lukas 23:46; Psalm 31:6).
Die apostels het die voorbeeld van Christus nagevolg. Die
kern van die Christelike geloof, leerstellings en gedrag is deurgaans deur die
Skrif bepaal. Die verrese Jesus Christus het
die persoonlike onderrig van Sy dissipels hervat en “Toe open Hy hulle verstand
om die Skrifte te verstaan” (Lukas 24:32, 44-45). Dit was deur die Skrif dat
dissipels “van al die nasies” gemaak is (Matteus 28:19), waarvan die voorbeeld
van die Ethiopiese hofdienaar van Handelinge 8:26-35 getuig.
Paulus, die apostel wat geroep is tot verkondiging van die
evangelie onder die heidene (of nie-Israeliete), het hom tot die gesag van die
Skrif gewend deur vrae te vra soos, “Wat sê die Skrif?” (Romeine 4:3; 11:2;
Galasiërs 4:30). By ander geleenthede het Paulus sy standpunte bevestig deur te
verklaar, “Want die Skrif sê …” en soortgelyke stellings (Romeine 10:11;
Galasiërs 3:8, 22; 1 Timoteus 5:18) bevestig sy klem op die Skrif as finale
outoriteit. Die Ou Testament en die Nuwe Testament is dus duidelik vir beide
Joodse en heidense (nie-Israelitiese) Christene geskryf.
Daar is ʼn deurlopendheid tussen die Ou en die Nuwe
Testamente (Matteus 4:4; 2 Timoteus 3:15-16). Die Nuwe is gegrond op die Oue,
en vergroot en brei dit uit (Matteus 5 tot 7). Die geskiedenis bewys dat die
enigste Skrif wat gedurende die bediening van Christus en die vroeë jare van
die apostels bestaan het, die Ou-Testamentiese Skrif was.
Die lees, hoor en beoefening van God se Woord is die
uitstaande kenmerke van God se volk (Lukas 8:21; 11:28). Die Woord van God
bring geloof in ʼn persoon se lewe voort (Romeine 10:17; Kolossense 3:16).
God verwag van Sy mense om Sy Woord gereeld en ywerig te bestudeer vir begrip,
vir persoonlike groei en om hulself te beskerm in ʼn goddelose samelewing (Handelinge
17:11; Efesiërs 6:17; 1 Johannes 2:14; Psalm 119:9). God se Woord is ons
geestelike voedsel, ons daaglikse geestelike brood. Wanneer dit geëet, verteer
en geabsorbeer word, word dit deel van ons denkwyse en optrede. Dit versterk
ons en stel ons in staat om ons geloof te verdedig (1 Petrus 3:15). Die Heilige
Skrifte kan ons “wys maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2
Timoteus 3:15-17).
Die Bybel is die lewende woord met eindelose toepassings in
ons daaglikse lewe (Hebreërs 4:12). Terwyl Paulus gevange was, het hy Timoteus
daaraan herinner dat, alhoewel die mens gebonde mag wees, die Woord van God nie
gebonde kan wees nie (2 Timoteus 2:8-9).
Die Kerk van God handhaaf die Bybelse mandaat om op Gods
Woord staat te maak in sy strewe na die Waarheid. Soos ons uit 2 Timoteus
3:16 leer, is “die hele Skrif deur God ingegee” tot vestiging van
leerstellings, weerlegging van foute, uitvoering van teregwysing, en
onderwysing in die geregtigheid. Die waarhede van die Bybel leer en lei God se
mense, en boonop heilig dit Sy Kerk en sonder dit af van die wêreld (Johannes
17:17). Die Bybel dien as ʼn noodsaaklike instrument in God se verhouding
met Sy Kerk, “om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur
die woord” (Efesiërs 5:26).
Ons glo dat Satan ʼn geesteswese is wat die teenstander
en aartsvyand van God en Sy kinders is; Satan is heerskappy oor die wêreld
gegee vir ʼn vasgestelde tydperk; Satan het die mensdom bedrieg en oorreed
om God en Sy Wet te verwerp; Satan regeer deur bedrog en word ondersteun deur
ʼn menigte rebelse engele (nou demone genoem) wat Satan in sy opstand teen
God gevolg het (Matteus 4:1-11; Lukas 8:12; 2 Timoteus 2:26; Johannes 12:31;
& 16:11; Openbaring 12:4, 9; & 20:1-3, 7, 10; Levitikus 16:21-22; 2
Korintiërs 4:4, & 11:14; Efesiërs 2:2).
Satan is God se aartsvyand, soos die betekenis van sy naam
in beide Hebreeus en Grieks duidelik aandui. Hy opponeer God om elke hoek en
draai, en by elke geleentheid wat hy kan kry. Hy verafsku God se Plan, veral
omdat dit openbaar dat God mense voorberei om tot die God-familie toegevoeg te
word. As gevolg hiervan, haat hy ook die hele mensdom. Hy is die groot misleier
van die mensdom, asook die een wat God se mense dag en nag by Hom aankla
(Openbaring 12:9-10). Christus het gesê die duiwel is ’n mense-moordenaar, ’n
leuenaar en die vader van leuens (Johannes 8:44). Hy word beskryf as ’n
brullende leeu wat rondloop op soek na wie hy kan verslind(1 Petrus 5:8).
Satan is beslis nie sommer net ’n gewone opponent nie. Hy is
uiters vindingryk, en is ’n slinkse en sluwe teenstander. Sy einddoel en
motivering is om te verhoed dat die mensdom deur God gered word. Ten einde
hierdie hoofdoelwit te bereik, verlei en mislei hy mense om teen God te
rebelleer deur te sondig (Efesiërs 6:11-18; 2 Korintiërs 2:11; Lukas 8:12).
Satan is magteloos om buite die perke en parameters wat God
vir hom neergelê het, op te tree (Job 1:12; 2:6). Job se verhaal bevat ook ’n
raak beskrywing van Satan se vyandige, beskuldigende geaardheid en beeld hom
uit as ’n werklike, lewende persoon. Hy het aan Jesus Christus verskyn as ’n
werklike wese en Hom probeer verlei (Matteus 4:1-11). Satan se heerskappy as
die god van hierdie wêreld sal beëindig word wanneer die sewende en laaste
basuin weerklink wat die wederkoms van Christus aankondig (1 Korintiërs
15:52; 1 Tessalonisense 4:16; Openbaring 11:15), alhoewel hy ná die Millennium
vir een laaste, kort tydjie losgelaat sal word (Openbaring 20:3).
Satan se bedrywighede is beperk tot dit wat God hom toelaat
en net so is sy tyd ook ingeperk. Sy dae is dus getel. Hy is tans “die god” en
“die owerste van hierdie wêreld” (2 Korintiërs 4:4; Johannes). Maar hy sal
met Christus se wederkoms uit daardie amp onttroon word (Openbaring 12:9-12).
Hy sal gebind word vir die volle tydperk van die Messias se duisendjarige
vrederyk. “Daarna moet hy dan ʼn kort tydjie ontbind (losgelaat) word”
(Openbaring 20:1-3; 7-8). Satan word vir 1000 jaar skadeloos gestel deur die
Messias.
Satan was oorspronklik as ʼn aartsengel met hoë amp en
gesag deur God geskape (Esegiël 28:14, 16). In Jesaja 14:12 word hy “môrester,
seun van die dageraad” genoem. In Engelse vertalings soos die King James
Version en die New King James, word hy Lucifer genoem. Ander
Engelse vertalings sê “star of the morning,” “bright star” of “morning
star” (New American Standard Bible, Revised English Bible, New
International Version). Die Nuwe Afrikaanse Vertaling sê “Jy wat die helder
môrester was...” Die Ou Vertaling, Esegiël 28:14, lui: “Jy was ʼn gérub met
uitgespreide vlerke wat beskut” Dit blyk dat hy ʼn rang gelyk aan dié van
Migael, die aartsengel, geniet het (Judas v.9). Hy was as ʼn perfekte en
vlekkelose wese geskape, maar het mettertyd die weg van sonde en rebellie teen
sy Skepper gekies (Esegiël 28:12, 15, 17). ʼn Derde van die engele het hom
in sy opstand teen God gevolg, en Jesus Christus het
as persoonlike ooggetuie, hiervan melding gemaak (Openbaring 12:4; Lukas
10:18). Hy en sy mede-engele (demone) wat saam met hom in opstand teen God
gekom het, het gepoog om God te onttroon, maar is deur God se mag en Sy
leërskare verslaan en is neergewerp (Jes. 14:12-15; 2 Petrus 2:4). Die
koninkryk van Satan word nou gekenmerk deur duisternis, in plaas van lig (Lukas
22:53; Efesiërs 6:12; Kolossense 1:13).
Onder sekere omstandighede is die duiwel en sy demone in
staat om besit en beheer te neem van mense en selfs diere (Matteus 8:28-33; 9:32-34).
Die verraaier, Judas Iskariot, is deur Satan self ingevaar en besete (Lukas
22:3). Christus, wie se mag groter as Satan sʼn is, het gedurende Sy aardse
bediening duiwels uitgedrywe en het aan andere ook hierdie mag gegee (Markus
16:17).
Die Skrif gebruik verskillende name en beskrywings om na
Satan te verwys ten einde sy bose karaktereienskappe en perverse optredes te
openbaar. Onder hierdie benamings is die Duiwel, Apollion (Gr.), Abaddon
(Heb.), Belial, Beëlsebul, die groot draak, en die owerste van die mag van die
lug.
Ons glo dat die mensdom na die beeld van God geskape is met
die potensiaal om kinders van God te word, deelgenote van die goddelike natuur.
God het die mens uit stoflike materie––vlees––gemaak. Die mens is afhanklik van
suurstof, is sterflik, onderworpe aan verganklikheid, sonder ewige lewe (die
ewige lewe is ʼn genadegawe van God, onderworpe aan Sy voorwaardes, soos in
die Bybel uiteengesit). Ons glo dat God aan Adam en Eva die keuse gebied het
van óf die ewige lewe deur gehoorsaamheid aan God, óf die dood deur sonde. Adam
en Eva het aan versoeking toegegee en was ongehoorsaam aan God. As gevolg
hiervan het sonde in die wêreld ingekom en deur sonde, die dood. Die dood heers
nou oor die ganse mensdom, omdat almal gesondig het (Genesis 1:26; 2 Petrus
1:4; Hebreërs 9:27; 1 Korintiërs 15:22; Romeine 3:23; 5:12; 6:23).
Die eerste hoofstuk van die Bybel vertel van die skepping
van die mens na die beeld van God (Genesis 1:26-27). Die mens is geskape met
waarlik verstommende potensiaal. Die mensdom se bestemming is om kinders van
God binne Sy Familie te wees (1 Johannes 3:1-2; 2 Petrus 1:4; 2 Korintiërs
6:18).
God beskik oor perfekte karakter. Hy is inherent goed en kan
nie sondig nie. Alhoewel God almagtig is, skep Hy nie “kits” perfekte karakter
in die mens nie. Karaktervorming vereis ’n doelbewuste besluit uit vrye keuse,
om ’n mens se leefwyse te grond op ’n deeglike kennis van wat moreel reg of
verkeerd is. Dit verg ook vasbeslotenheid om te kies wat reg is en te verwerp
wat verkeerd is.
Adam en Eva het oorspronklik beperkte, fisiese lewe ontvang,
met beperkte lewensverwagting. “En die HERE God het die mens geformeer uit die
stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die
mens ’n lewende siel geword” (Genesis 2:7). Die Hebreeuse woord nephesh,
vertaal as “siel” in Genesis 2:7, word in Genesis Een, vier keer gebruik met
verwysing na diere (Genesis 1:20; 21; 24; 31), en in Numeri 6:6 word nephesh
as “dooie” vertaal, wat die verganklikheid van die “siel” aandui. Die eerste
mens moes later aanhoor, “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat
jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot
stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19).
Die Bybelse boek van wysheid bekend as Prediker, vermaan:
“Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen
werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie”
(Prediker 9:10). Menslike wesens is sterflik en onderworpe aan verganklikheid.
Die mens besit nie onsterflikheid in die vorm van ’n “onsterflike siel” nie. In
Psalm 30:10 spreek Koning Dawid tot God: “Watter voordeel is daar in my bloed
as ek neerdaal in die kuil? Sal die stof U loof? Sal dit U trou verkondig?”
Dit is God se begeerte om aan elke mens die gawe van die
ewige lewe in Sy Familie te skenk, want die ewige lewe is nie iets wat
iemand kan verdien nie. God sal egter nie hierdie waardevolle geskenk
aan enigeen gee wat nie bereid is om hom of haar aan Hom te onderwerp en Sy Wet
te gehoorsaam nie (1 Kor. 6:9-10). Die ewige lewe as deel van die Familie van
God staan bekend as “die saligheid.” God openbaar in Sy Woord dat saligheid nie
outomaties aan elke mens gegee word nie. Hy sal hierdie seëning slegs aan
diegene skenk wat bewys het dat hulle bereidwillig was om Hom te gehoorsaam (Openbaring 21:7-8).
God staan onder geen verpligting om aan ons onsterflikheid
te gee sodat ons die ewige lewe as Sy kinders op die geestelike dimensie kan
smaak nie, maar ons weet dat God liefde is (1 Johannes 4:8). Voortvloeiend uit
Sy onbaatsugtigheid en liefde vir ons, het Hy dus ’n plan beraam waardeur die
mensdom gered kan word en die saligheid in Sy Koninkryk kan beërwe—die grootste
seëning wat ’n liefdevolle Skepper moontlik kán skenk (Lukas 12:32).
Toe God die eerste mense, Adam en Eva, geskape het, het Hy
aan hulle toegang verleen tot die boom van die lewe, ’n simbool van die ewige
lewe (Genesis 2:9; 3:22). Hy het hulle verbied om van die boom van kennis van
goed en kwaad te eet, ’n simbool van die mens se vrye keuse om onafhanklik van
God, self te besluit wat reg en verkeerd is. (Hy bepaal wat reg
en verkeerd is.) Hy het aan hulle opdrag gegee om nie Sy uitdruklike bevele te
verontagsaam en sodoende te sondig nie, want om God se instruksies te verbreek,
is sonde (Genesis 2:9, 16-17; 1 Johannes 3:4, Nuwe Vertaling). Sonde lei tot
die ewige dood. (Genesis 2:17; Esegiël 18:4, 20; Romeine 6:23). Elke sonde
skaad die karakter van die een wat die sonde pleeg. Sonde benadeel nie slegs
die een wat die sonde pleeg nie, maar ook die samelewing, en dikwels selfs die
nageslag.
Adam en Eva het die vrye keuse wat God hulle toegelaat het,
onder die invloed van Satan misbruik en sonde gepleeg deur God se uitdruklike
bevele te verontagsaam (Genesis 3:1-6). Die eerste mense het dus begin om
teenstrydig met die wil van hulle liefdevolle Skepper te leef, en hulself onder
die loon van die sonde—die dood—geplaas, waarteen God hulle vooraf gewaarsku
het. Geen mens, met die uitsondering van Jesus Christus, het nog ooit ’n
sondelose lewe gelei nie (Prediker 7:20; Hebreërs 4:15). Ten spyte van die
sondeval van die mensdom, het dit God se planne met die mens geensins gefnuik
nie. In Sy alwetendheid, wysheid en liefde, het God ’n Weg voorsien waardeur
menslike wesens met Hom versoen kan word (Johannes 3:16-17). Die mens kan nog,
met God se hulp, die goddelike karakter bou wat ’n voorvereiste is om God se
geskenk van die ewige lewe as Sy kind te beërwe (1 Korintiërs 15:22; Galasiërs
2:20). Sonder die verlossing wat God voorsien, is die ganse mensdom onderworpe
aan die ewige dood, want almal het gesondig (Romeine 3:21-26).
Indien u hierdie
onderwerp in fyner besonderhede wil bestudeer, kan u die onderstaande boekies
op ons webtuiste lees of aflaai deur slegs op
die geskikte skakel te klik.
Die leesstof is
in beide html-formaat en
pdf-formaat beskikbaar:
“Why does God allow Suffering?”
Die leesstof is
in beide html-formaat en
pdf-formaat beskikbaar:
Die leesstof is
in beide html-formaat en
pdf-formaat beskikbaar:
"What happens
after Death?''
of u kan die
gratis gedrukte boekie bestel.
O
Ons glo dat God die mensdom geskape het om uiteindelik lede
van Sy Familie te word. Hulle lotsbestemming is om onsterflikheid te beërwe en
vir ewig in ’n eensgesinde verwantskap met God en met mekaar te lewe (Hebreërs
2:6-13). Om die ewigheid met God te kan deel, moet ons ook Sy denke deel, Sy
gesindheid, en Sy lewenswyse. Ons moet ook Sy waardes wat Sy Wet uitbeeld,
waardeer en handhaaf (Filippense 2:5-13). God se geskrewe openbaring aan die
mensdom, die Heilige Skrifte, openbaar hierdie noodsaaklike kennis aan ons deur
Sy wette en leringe (2 Timoteus 3:15-17). Hierdie vereistes vorm die grondslag
vir die ewige verhouding wat God begeer om met ons te hê. Daarom is dit uiters
noodsaaklik dat elkeen wat so ’n verhewe verhouding met God verlang, die
voorskrifte van God se Wet moet gehoorsaam soos Sy Woord bepaal.
Sonde, wat die oortreding van die Wet is, is in die Tuin van
Eden aan die mensdom bekendgestel. Satan het vir Adam en Eva gelieg omtrent die
boom van die kennis van goed en kwaad (Genesis 3:4; Johannes 8:44). Teenstrydig
met Satan se bedrieglike voorspelling, het Adam en Eva wel gesterf. Ons deel
almal dieselfde toestand van sterflikheid omdat ons hulle afstammelinge is
(Hebreërs 9:27). Dit is dus geen toeval dat die alomteenwoordigheid van sonde
in alle mense (Romeine 3:23) verbind word met die dood en die terughouding van
God se gawe van die ewige lewe nie (Romeine 6:23).
Die deurdringende aard van sonde en die dood blyk duidelik
uit die menslike neiging om God se Wet te minag en te verontagsaam (Romeine
8:7). Hierdie afwyking van God se perfekte riglyne af, gaan dikwels gepaard met
selfmisleiding (Jeremia 17:9; 10:23). Die direkte (Efesiërs 2:1-3) sowel as die
indirekte invloed van Satan is duidelik herkenbaar in diegene wat hy mislei (2
Korintiërs 11:13-15).
Vandat hy in opstand gekom het teen God, het Satan die
menslike ras agteraf gewerf vir sy stryd, aangesien alle sonde teen God is,
behalwe die gevolge daarvan op mense self (Genesis 39:9; Psalm 51:4).
Oortreding van enige van God se voorskrifte is sonde (1
Johannes 5:17), maar dit is ook sonde om na te laat om te doen wat ’n mens moet
doen (Jakobus 4:17) of om ’n mens se gewete te skend (Romeine 14:23). Boonop is
sonde ’n verslawende mag waarvan ons verlossing en bevryding nodig het (Romeine
7:23-25). Ons is magteloos om hierdie verlossing self te bewerkstellig (1
Petrus 1:18-19). Enige vorm van sonde veroorsaak vervreemding tussen God en ons
(Jesaja 59:1-3; Efesiërs 4:17-19) en uiteindelik die dood. Geen
wetsgehoorsaamheid wat ná sulke gedrag volg, kan egter die gevolge omkeer nie,
alhoewel gehoorsaamheid vereis word. Slegs die volmaakte offer van Jesus
Christus kan ons bevryding en versoening met God teweegbring (Hebreërs
2:14-15).
Deur die vergifnis van sonde deur God se genade (Romeine
3:24), vind ’n Christen vryheid in gehoorsaamheid aan God se Wet (Jakobus
1:21-25). In plaas van verslawing aan sonde deur ongehoorsaamheid, dien ons God
dan deur gehoorsaamheid en loop die pad wat God vir ons bedoel het, wat na die
ewige lewe in Sy Koninkryk lei deur Sy onverdiende genadegawe (Romeine
6:16-23).
God beskou dit in ’n baie ernstige lig as iemand terugkeer
na ’n ou, sondige lewenswyse (2 Petrus 2:20-22). Die enigste sonde wat egter
nie vergewe kan word nie, is die doelbewuste verwerping van die offer van Jesus
Christus, waardeur vergifnis van sonde moontlik gemaak word (Hebreërs 6:4-6).
Christus noem hierdie sonde “lastering teen die Gees” (Matteus 12:31), ’n
bewuste verwerping van die mag en gesag van God. Nadat elke menslike wese ’n
volle geleentheid vir redding gegun is, sal die oorblywende onbekeerdes
vernietig word (Openbaring 20:14-15).
Dit sal dan die uiteindelike straf vir sonde vervul—die tweede dood.
Alhoewel elke persoon verantwoordelik is vir sy eie sonde (Esegiël 18:4, 20), is Satan die duiwel die
misleier van die mensdom en die een wat uiteindelik verantwoordelik gehou word
(Openbaring 12:9;
20:1-3).
Ons glo dat God hierdie wêreld van hulpelose sondaars so lief
gehad het dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, wat in die menslike vlees gelewe
het sonder sonde, alhoewel Hy in alle opsigte versoek is net soos ons. Daardie
Seun, Jesus Christus, het as
ʼn offer gesterf vir die sondes van die mensdom. Omdat Hy die Skepper van
die mensdom is, is Sy lewe van ontsaglik groter waarde as die gesamentlike
totaal van alle menslike lewe. Om daardie rede is Sy dood voldoende om die
boete te betaal vir die sondes van elke menslike wese. Volgens God se plan het
Hy dit deur die vereffening van hierdie skuld moontlik gemaak vir elke persoon
en vir die mensdom as geheel, om hul sondes vergewe te kry en verlossing van
die doodstraf te verkry (Hebreërs 4:15; 9:15; 10:12; Johannes 1:18; 3:16;
Kolossense 1:16-17; 22; 1 Johannes 2:2; 4:10; Efesiërs 1:11; Openbaring 13:8).
Jesus Christus is die kernpunt van die Christendom.
Vergifnis van sonde en uiteindelik die gawe van die ewige lewe, is slegs deur
Sy offer beskikbaar. Ons is versoen met God deur die dood van sy Seun,
maar ons sal deur Sy lewe gered word (Romeine 5:10). Die Skrif gebruik
verskeie titels om Jesus Christus te beskrywe, insluitend: Die Woord (Johannes
1:1), ons Verlosser (1 Johannes 4:14), ons Hoëpriester (Hebreërs 9:11), ons
Here (Openbaring 22:21), die
Seun van God (Openbaring 2:18; 1
Johannes 5:5), ons Paaslam (of Pasgalam) (1 Korintiërs 5:7), die Menseseun
(Openbaring 14:14) of die
Seun van die mens (Johannes 13:31), en “Die Koning van die konings en die Here
van die here” (Openbaring
19:16).
Christus het die uiterste offer betaal vir die mens se
sonde. Alhoewel Hy goddelik was, het Jesus ’n mens geword om vir die sondes van
die mensdom te sterwe (Filippense 2:5-7). Hy is minder as die engele gemaak,
“vanweë die lyde van die dood” (Hebreërs 2:9). Omdat die Seun van die Mens in
staat was om versoekings in die menslike vlees te ondervind (Hebreërs 4:15),
kon Hy ons barmhartige Hoëpriester word (Hebreërs 2:17) “Want deurdat Hy self
onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Hebreërs 2:18).
Christus as ons Verlosser, het Sy lewe gegee sodat ons mag lewe. As ons
Pasga-offerlam het Hy ’n afgryslike dood gesterwe, sodat ons die massiewe
omvang van die sonde mag verstaan en die enorme betekenis van Sy offer wat vir
elke menslike wese gemaak is.
Jesus het ’n volmaakte lewe gely en het nie die doodstraf
verdien nie. Nogtans was Hy van die grondlegging van die wêreld af bestem om
vir die mensdom te sterf (Openbaring. 13:8—of
beter gestel in die Engelse Bybel: “...the Lamb slain from the foundation of
the world.” Lees ook 1 Petrus 1:11, 20). Alhoewel Christus, die
sondelose offer vir sonde, by meer as een geleentheid beskuldig is dat Hy God
se Wet oortree het, het Hy nooit God se Wet verbreek nie. Ons neem Sy uiters
noodsaaklike offer aan waarsonder die saligheid onmoontlik is. Terwyl ons ons
lewens op Jesus Christus s’n modelleer, dra ons ons kruis en volg Hom (Lukas
14:27). Dit sluit in ’n gewilligheid om te ly en vervolg te word soos Hy die
voorbeeld gestel het (1 Petrus 2:19-23). Ons dank God die Vader dat Hy Sy Seun
Jesus Christus opgeoffer het om daardie volmaakte offer vir die ganse mensdom
te wees (Johannes 3:16).
Alle sonde word vergewe by opregte bekering en aanname van
Christus se offer. Vergifnis van sonde vereis die allerhoogste offer—die dood
van Jesus Christus. Sy kruisiging meer as 1900 jaar gelede was nodig in God se
plan van verlossing en saligheid.
As ons hierdie basiese lering verstaan, kan ons verseker wees dat ons sondes uitgewis is. Ons kan met volle vertroue voortgaan met ons Christelike lewens, wetende dat die offer van Jesus Christus ons met die Vader kan versoen. As gevolg van hierdie versoening kan ons ’n verhouding met ons Vader opbou wat ons met hoop en vertroue vir ons toekoms sal vul. Ons kan uitsien na die ewige lewe in die Koninkryk van God as ʼn genadegawe van God deur die offer wat Christus gewilliglik vir elkeen van ons gemaak het.
Ons glo dat die Vader vir Jesus
Christus
uit die dode opgewek het nadat Sy liggaam drie dae en drie nagte in die graf
gelê het, en dus onsterflikheid moontlik gemaak het vir die sterflike mens.
Christus het daarna na die hemel opgevaar, waar Hy nou aan die regterhand van
God die Vader, as ons Hoëpriester en Middelaar, sit (1 Petrus 1:17-21; 3:22;
Matteus 12:40; 1 Korintiërs 15:53; 2 Timoteus 1:10; Johannes 20:17; Hebreërs
8:1; 12:2).
Een van die mees dramatiese, bemoedigende en ontsagwekkende
gebeurtenisse van alle tyd was die opstanding van Jesus
Christus. God die Vader het Sy enigste Seun, Jesus die Christus,
opgewek nadat Hy doodgemaak is en in die graf net buite Jerusalem geplaas is.
Die Vader het toegelaat dat Hy doodgemaak word, en Jesus het Homself
gewilliglik daaraan onderwerp (Johannes 10:17-18). Sy dood het die boete betaal
vir alle sondes van alle menslike wesens wat nog ooit geleef het, op voorwaarde
dat hulle hul opreg bekeer van daardie sondes. Sy dood is “vooruit … voor die
grondlegging van die wêreld” georden deur die Vader en die Woord as ʼn
noodsaaklike deel van die verlossing van die mensdom (1 Petrus 1:20).
So het God dit dan in Sy soewereine regverdigheid, genade en
liefde, moontlik gemaak dat alle mense se sondes vergewe kan word (na bekering,
en as hulle glo). Die bloed van Christus, die Lam van God, versoen ons ook met
God (Matteus 26:28; Openbaring
12:11). Maar die dood van Jesus Christus was
nie die einde van die saak nie. Nadat ons deur Sy bloed met God versoen is,
word ons deur Sy lewe gered (Romeine 5:10).
Alleen deur Christus se opstanding tot onsterflikheid kon
ons ʼn lewende Verlosser hê wat as Hoëpriester vir ons by die Vader
voorspraak maak (1 Timoteus 2:5; Hebreërs 4:15-16; Romeine 8:26-27). Slegs
as gevolg van Jesus Christus se
opstanding uit die dode kan menslike wesens rede hê om in die evangelie van die
Koninkryk van God te glo en dat hulle van die ewige dood gered kan word (1
Korintiërs 15:14-19). Sy opstanding gee vir ons ʼn lewende hoop dat ons ook
die ewige lewe mag beërwe (1 Petrus 1:3).
Jesus het beide die gebeurtenis en die besonderhede van Sy
opstanding voorgehou as die enigste goddelike teken aan Sy
geslag dat Hy “meer as Jona” en “meer as Salomo” was, en dat Sy boodskap die
hoorders daarvan tot bekering behoort te lei (Matteus 12:39-42). Hy het gesê:
“ʼn Slegte en owerspelige geslag soek na ʼn teken, en geen teken sal
aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want
soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was (Jona
1:17), só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart
van die aarde wees.” En Hy was ook drie dae en drie nagte––ʼn
tydperk van 72 uur (Johannes 11:9-11; Genesis 1:5)––in die hart van die aarde
(die graf). In Markus 8:31 het Hy gesê dat hy die derde dag sou opstaan. (Die
Engelse vertaling sê dat hy na drie dae sou opstaan.) In Matteus 27:63
haal die owerpriesters en Fariseërs Jesus se woorde aan waar Hy gesê het: “Oor
drie dae staan Ek op.”
Die probleem met die algemeen aanvaarde opvatting aangaande
die kruisiging en die opstanding, is dat daar nie drie
dae en drie nagte tussen Vrydagmiddag en Sondagoggend is nie.
[Lesers word daarop gewys dat die 1983 Nuwe Afrikaanse
Vertaling se verwysings na “Vrydag” en “Sondag” in bv. Matteus 27:62 en 28:1,
foutief, misleidend, en sonder insig is.]
Die oorweldigende Bybelse en historiese getuienis toon dat
Jesus op Woensdag namiddag gesterf het, haastig in die graf van Josef van
Arimathéa neergelê is––kort voor sononder daardie selfde middag, die vooraand
van ʼn groot (jaarlikse) Sabbat, die eerste dag van Ongesuurde
Brood; (Johannes 19:30-31, 42; Markus 15:42-46). Hy is kort voor sononder op
Saterdag deur die Vader opgewek, drie dae en drie nagte nadat Hy in die graf
neergelê is––presies soos Hy gesê het.
Hierdie verduideliking is konsekwent met die besonderhede in
die Skrif. Dit vereis nie ʼn onlogiese saampersing van drie dae en drie
nagte tussen Vrydagaand en Sondagoggend, met vae gissings oor dele
van dae en dele van nagte nie. Dit versoen ook die beskrywings van die vroue en
die speserye in Markus 16:1 en Lukas 23:56. In die eerste verhaal het die
getroue vroue gehoorsaam gerus gedurende heilige tyd en agterna die speserye
aangekoop. In die tweede weergawe het die vroue die speserye voorberei en
agterna gedurende heilige tyd gerus.
Hierdie weergawes maak sin as mens begryp dat daar twee
heilige tydperke gedurende die week onder bespreking was. Jesus is op die
Pasgadag gekruisig (Matteus 26:18-20; 1 Korintiërs 5:7), wat die
voorbereidingsdag was (Markus 15:42) vir die eerste Heilige Dag op die Joodse
kalender, die eerste dag van Ongesuurde Brood. Die vrouens het gewag totdat
hierdie dag verby was, en het toe die speserye gekoop en voorberei, en toe weer
op God se weeklikse Sabbatdag gerus. Toe het hulle na die graf gegaan om Jesus
se liggaam met die speserye te salf.
Hulle het die graf ná die heilige Sabbatte (meervoud) van
daardie week (soos Matteus 28:1 uit die oorspronklike Grieks vertaal moes
gewees het). Die jaarlikse Sabbat (jaarlikse Heilige Dae word ook “Sabbatte”
genoem––bv. Levitikus
16:31; 23:32) was op Donderdag, en die weeklikse Sabbat was Saterdag. Toe hulle
vroeg op Sondagoggend by die graf aankom, het hulle dit leeg gevind en die
aankondiging van die engel gehoor dat Jesus lewend was en nie daar was nie.
ʼn Aansienlike hoeveelheid historiese en skriftuurlike
getuienis dui op 31 nC as die jaar van Christus se kruisiging en opstanding.
Onder hierdie aanduidings van ʼn 31 nC kruisiging, is die vervulling van
Daniël se profesie van die komende Messias (Daniël 9:24-26; en Esra
7––Artasásta se dekreet), en ʼn sorgvuldige oorweging van drie mylpale: die
moontlike datum van Jesus se geboorte, Sy ouderdom toe Hy Sy bediening begin
het, en die duur van Sy bediening.
Die berekende kalender van die Jode plaas die Pasga in 31 nC
op ʼn Woensdag, en Jesus Christus
se dood op daardie dag het Sy rol as die ware Pasgalam van God vervul (1
Korintiërs 5:7). Die volgende dag, Donderdag, was ʼn heilige (jaarlikse)
Sabbat. Op daardie Donderdag het die owerpriesters en die Fariseërs na Pilatus
toe gegaan vir toestemming om Jesus se graf te verseël en te bewaak (Matteus
27:62-66).
Later, op die Sondag, het die verrese Jesus op die pad na
Emmaüs gestap en met twee van Sy dissipels gesels, wat al die voorafgaande
gebeure bespreek het, insluitend die besoek van die leiers aan Pilatus op die
Donderdag (Lukas 24:13-14, 20). Hulle het genoem dat daardie dag, Sondag, die
derde dag was sedert al daardie dinge gebeur het (vers 21).
Ter samevatting, glo ons dat Jesus Christus, die Lam van
God, op die Pasga vir ons sondes gesterf het, vir drie dae en drie nagte (72
uur) begrawe was, waarna Hy opgewek is. Na ’n tydperk van verdere kontak met
die dissipels, het Hy opgevaar na die hemel om aan die regterhand van die Vader
te gaan sit, ver verhewe bo alle ander owerhede en mag en krag en heerskappy (Efesiërs
1:19-23).
Ons glo dat almal wat hulle opreg uit hul sondes bekeer, hul
geheel en al aan God se wil onderwerp in gewillige gehoorsaamheid, en wat Jesus Christus in geloof aanneem as hul persoonlike
Saligmaker, se sondes vergewe word deur God se genade. Sulke persone word
geregverdig, kwytgeskeld van die loon van die sonde, en ontvang die gawe van
die Heilige Gees, wat letterlik in hulle inwoon en die goddelike liefde
voorsien wat alleen die Wet kan vervul en geregtigheid voortbring. By die doop ontvang hulle die Heilige Gees, wat hulle dan
inlyf in die Liggaam van Christus, wat die ware Kerk van God is. Ons glo
in ʼn ware verandering in lewenswandel en gesindheid. Slegs diegene wat die
Heilige Gees se inwonende teenwoordigheid het en deur die Heilige Gees gelei
word, behoort aan Christus (Handelinge 2:38; 3:19; 5:29-32; 2 Korintiërs 7:10;
Johannes 3:16; Efesiërs 1:7; 2:7-9; Romeine 3:21-26; 5:5; 6:6; 8:4, 9-10, 14,
13:1; Jeremia 33:8; Johannes 14:16-17; 1 Korintiërs 12:12-13, Filippense
2:3-5).
“Bekering uit dooie werke” word in Hebreërs 6:1 genoem as
ʼn deel van die fondament wat uiteindelik “na die volmaaktheid voortgaan”
en tot die ewige lewe lei. Jesus het die belangrikheid van bekering beklemtoon
toe Hy twee keer gesê het, “as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so
omkom” (Lukas 13:3, 5). God vereis dat almal tot bekering moet kom (Handelinge
17:30; 2 Petrus 3:9).
In die eerste opgetekende prediking in die Nuwe
Testamentiese Kerk, het Petrus die mense aangesê om hulle te bekeer (Handelinge
2:38). Bekering behels veel maar as om jammer te wees of om berou te hê oor
ʼn mens se optrede van die verlede (2 Korintiërs 7:8-11). Ware bekering
behels ʼn herkenning van ons natuur en ons teenstrydigheid teen God
(Romeine 8:7). Dit vereis ʼn verandering, ʼn algehele en totale
ommekeer in ʼn mens se lewe, ʼn koersverandering uit die weë van die
wêreld na die weë van God (Jesaja 55:7-8; Handelinge 26:20). Dit behels volle
oorgawe en gewillige gehoorsaamheid gegrond op die kennis van hoe God wil hê
ons moet lewe.
Bekering begin wanneer ons uitroep tot God vir vergifnis van
ons sondes en ons Jesus Christus
aanneem as ons persoonlike Verlosser en Saligmaker. Dit is ʼn besluit wat
nie slegs op emosie gegrond moet wees nie, alhoewel emosie beslis ʼn
belangrike deel daarvan mag uitmaak (Handelinge 2:37), maar ʼn besluit om
God opreg te gehoorsaam deur geloof in Jesus
Christus. Christus se geregtigheid word ons geregtigheid deur
geloof in Hom (Filippense 3:8-9; Romeine 8:1-4). Bekering is nie eenvoudig
onderwerping aan ʼn godsdiensstelsel of ʼn stel reëls nie. Vertroue in
God en Sy weë lei ʼn persoon om volgens Sy wil te begin optree en om werke
van geregtigheid te toon (Jakobus 2:17-26). Ware goddelike bekering is nie iets
wat ʼn persoon self kan “opwerk” nie. Dit is ʼn gawe van God (2
Timoteus 2:25). Dit is een van die baie goeie dinge wat ons hemelse Vader ons
gee (Jakobus 1:17). Hy lei ons tot bekering (Romeine 2:4).
Berou is ʼn belangrike deel van die bekeringsproses.
Soos Petrus verder in daardie eerste preek gesê het: “Bekeer julle, en laat
elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus
Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die
Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38). Ons moet ons bekeer van sonde, wat die
oortreding van God se Wet is (1 Johannes 3:4––Die Ou Vertaling noem dit
“wetteloosheid” maar die Nuwe Afrikaanse Vertaling stel dit nog duideliker as:
“oortreding van die Wet van God”). Bekering word deur die doop gevolg.
Nadat ʼn persoon tot bekering gekom het en gedoop is,
word God se Gees aan hom geskenk deur die handeoplegging (2 Timoteus 1:6). Dan
lei die Heilige Gees ons om God se lewensweg te volg (Romeine 8:14). Deur
middel hiervan het ons die inwonende liefde van God wat ons motiveer om God se
wette te onderhou (1 Johannes 5:3). Ware Christene het die Heilige Gees
(Romeine 8:9) en strewe om te lewe soos Christus gelewe het (1 Johannes
2:6).
Bekering behels beide berou en vreugde. Bekering lei tot
ʼn vreugdevolle en ewige verhouding met ons liefdevolle God, ons Skepper en
die Gewer van lewe. Bekering fokus ons visie op die liefde en genade van God en
die vergifnis van sonde wat moontlik gemaak word deur die offer van ons Here en
Verlosser, Jesus Christus.
Bekering is nodig om “die oue mens” af te lê en ʼn deel van die familie van
God te word as “die nuwe mens … in ware geregtigheid en heiligheid” (Efesiërs
4:20-24). Jesus het gesê, “bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15).
Die vooruitsig om deel te wees van die Koninkryk van God is beslis rede om
verheug te wees!
Goddelike bekering word deur die doop gevolg, waarna die
gawe van die Heilige Gees ontvang word (Handelinge 2:37-38). Sodoende word die
sondes van die verlede uitgewis (Romeine 3:25). Ná die doop staan ʼn mens
op in ʼn nuwe lewe gelei deur God se Gees, en toename in kennis, oplewering
van die vrugte van die Gees, en heiligmaking in geregtigheid (2 Petrus
3:18; Matteus 13:23; Galasiërs 5:22; 2 Korintiërs 7:1).
Bekering is egter ʼn voortdurende proses. Dit is nie
ʼn eenmalige gebeurtenis in die lewe van die gelowige nie. ʼn Bekeerde
persoon moet die stryd teen sonde in sy of haar lewe voortsit (1 Johannes
1:8-10; 2:1; Efesiërs 6:12). Ons sondige menslike natuur bly by ons vir die res
van ons lewe en voer ʼn stryd teen ons verstand, wat tot sonde lei (Romeine
7:17, 20-21). Ons begeer om God te behaag. Die liefde van God in ons (Romeine
5:5) bely die volmaakte weg van God en wil dit navolg, maar word deur die
swakheid van die vlees teengestaan (Romeine 7:12-25).
God veroordeel nie die gelowige (Romeine 8:1), wat in ʼn
bekeerde gesindheid bly in sy stryd om die sonde te oorwin nie (Openbaring 2:7, 11, 17, 26; 3:5, 12, 21).
ʼn Christen volhard deur voortdurende bekering en geloof in Jesus Christus om sy sondes te bedek in
hierdie lewenslange proses van oorwinning.
Ons glo in die ordinansie van die doop deur onderdompeling ná
bekering. Deur handeoplegging, wat met gebed gepaardgaan, ontvang die gelowige
die Heilige Gees en word deel van die geestelike Liggaam van Jesus Christus (Matteus 3:13, 16; Johannes 3:23;
Handelinge 2:38; 8:14-17; 19:5-6; 1 Korintiërs 12:13).
Johannes die Doper het ʼn doop van bekering bekendgestel
wat gekoppel was aan die konsep van vergifnis van sondes (Matteus 3:1-6; Markus
1:4-5). Jesus Self is deur Johannes gedoop (Matteus 3:13-17), nie omdat Hy
bekering of vergifnis nodig gehad het nie, maar om deur die eeue as voorbeeld
vir Sy dissipels te dien.
Die woord “doop” (Engels: “baptise”)
is ʼn vertaling van die Griekse woord baptizo, wat beteken “om te
onderdompel.” By definisie is die enigste Bybelse vorm van doop dus ʼn
volkome onderdompeling in water. Johannes die Doper het ʼn spesifieke plek
in die Jordaanrivier gekies vir sy doop, “omdat daar baie water was” (Johannes
3:23).
Die instelling van die doop is uiters belangrik vir die
Christen. Deur middel van hierdie een proses word die gelowige aan Christus se
dood, begrafnis en opstanding herinner, en verbind dit met sy of haar eie
simboliese “dood” en “opstanding” vanuit die “watergraf” om in ʼn “nuwe
lewe” te wandel (Romeine 6:3-6; Kolossense 2:12-13). Die belofte van die
gelowige se toekomstige opstanding in die Koninkryk van God is ook
onafskeidbaar verbind met die simboliek van die doop. Die pasgedoopte persoon
kom uit die water uit, sy sondes vergewe, om ʼn nuwe lewe in Christus te
lewe, vry van die doodstraf wat sonde teweegbring. Die doopwater het daardie
sondes dan simbolies afgewas. In hierdie verband, is die doop ʼn uiterlike
erkenning van die gelowige se innerlike voorneme om sy wil en lewe aan God en Sy
lewensweg te onderwerp (Efesiërs 4:20-24).
Die doop, soos vereis deur God, moet deur geloof en bekering
voorafgegaan word (Handelinge 2:37-38; Markus 16:16). Die simboliek van die
doop dui op die dopeling se gewilligheid om die ou sondige lewe te “begrawe”
(Romein 6:11). Ons erkenning van skuld en die nodigheid vir Jesus Christus om ons van die gevolge van
sonde te red, is van die allergrootste belang. Hierdie bekering word gekenmerk
deur ʼn verandering van gesindheid en optrede en word gegrond op
persoonlike geloof in, en ʼn volkome nuwe verhouding met Jesus Christus en God die Vader (Lukas
14:25-33; Kolossense 2:12). Slegs iemand wat volwasse genoeg is om die vereiste
lewenslange nuwe verhouding ten volle te begryp en te waardeer, behoort gedoop
te word. Die Bybel dui geensins aan dat die doop geskik is vir kinders nie.
Die doopseremonie word afgesluit deur gebed en
handeoplegging. Hierdie is deel van die proses waardeur ons die gawe van God se
Gees ontvang (Handelinge 8:14-18). Christus lewe deur die werking van die
Heilige Gees in die Christen (Johannes 14:16-17, 23; Galasiërs 2:20). Deur
hierdie proses word die gelowige in die geestelike Liggaam van Christus geplaas
(1 Korintiërs 12:12-13), wat blydskap in die hemel meebring (Lukas 15:7).
Die opdrag wat Jesus Christus aan
Sy dissipels gegee het, sluit die magtiging in om gelowiges te doop (Matteus
28:18-20). Diegene wat tot bekering kom deur die roeping van God (Johannes
6:44) en verlang om gedoop te word ter vergifnis van sondes, volg dus die
voorbeeld en opdrag van Jesus Christus.
Ons glo dat die sewende dag van die week die Sabbat van die
Here ons God is. Ons word beveel om die
leringe en voorbeeld van Jesus, die apostels en die Nuwe Testamentiese Kerk na
te volg deur op hierdie dag te rus van ons arbeid, en God te aanbid (Genesis
2:2-3; Eksodus 20:8-11; 31:13-17; Levitikus 23:3;
Jesaja 58:13; Hebreërs 4:4-10; Markus 1:21; 2:27-28; 6:2; Handelinge 13:42-44;
17:2; 18:4; Lukas 4:31).
Die Sabbatdag is reeds by die skepping gemaak en afgesonder
vir die mens. God het die sewende dag geseën en geheilig en daarop gerus van al
Sy werk. Die Sabbat is die dag ná die skepping van die eerste mens gemaak––ʼn geordende tyd vir die mens om op
ʼn intieme persoonlike verhouding met sy Skepper te fokus (Genesis 2:2-3).
Die Sabbat is vir die mens gemaak en bevoordeel ons
regstreeks. Jesus Christus is
“Here van die Sabbat” en daarom is die Skepper Self vir ewig met hierdie
heilige tyd verbind (Markus 2:27-28). Dit is ʼn baie spesiale tyd vir die
mens om sy verhouding met God te ontwikkel en sy toewyding aan God te verdiep. Wanneer ons ophou om ons eie weë
te volg, vind ons verlustiging in dit wat God behaag (Jesaja 58:13-14).
God het in Eksodus 20:8-10 vir ons aanwysings gegee
aangaande die onderhouding van die Sabbat: “Gedenk die
Sabbatdag, dat jy dit heilig...” Mens “gedenk” die Sabbat en “heilig” dit
deur op die sewende dag te rus en te aanbid. Wanneer Christene hierdie gebod
nakom, volg hulle die voorbeeld van hul Skepper en word hulle herinner aan Hom
wat hulle geskape
het.
God beklemtoon weereens in
Deuteronomium 5:12-15 dat dit nodig is om die Sabbat te onderhou. Hy
verduidelik dat die onderhouding van die Sabbat
ons nie alleen aan die Skepper moet herinner nie, maar ook dat Hy die Een is
wat ons uit slawerny bevry (lees ook Lukas 4:18-19). Ou Israel het onthou dat
hulle uit fisiese slawerny in Egipte verlos is. Christene onthou dat hulle uit
geestelike slawerny bevry en deur Jesus Christus
verlos is (Romeine 6:16-18).
In Eksodus 31:13-17 verklaar God duidelik dat die Sabbat vir
ewig ʼn teken is, en ʼn ewige verbond tussen Hom en Sy kinders is.
Hierdie is bo en behalwe die opdrag wat met die skepping en in die Tien Gebooie
gegee is. Dit moet heilig gehou word as ʼn herinnering aan diegene wat deur
God geroep is dat Hy die Een is wat hulle uitsonder
en dat hulle kinders van God is.
Wanneer Jesus na die aarde toe terugkeer
en die Koninkryk van God kom oprig, sal die
Sabbat gereeld onderhou word om God te aanbid en te dien (Jesaja 66:23).
Die waarheid dat daar dus ʼn Sabbatsrus vir die volk van
God oorbly (Hebreërs 4:9) is bevestig deur die lewende voorbeeld van Jesus Christus (Lukas 4:16, 23) en Sy
volgelinge ná Sy dood en opstanding.
Paulus het die heidene (nie-Israeliete) op die Sabbat geleer
(Handelinge 13:42-44) en so beide die Wet van God en die voorbeeld van Christus
nagevolg. Waar Paulus ook al heen gegaan het, het hy volgens sy
gewoonte op die Sabbat geleer, en kerke gestig wat die Sabbat onderhou het
(Handelinge 17:2; 18:4). Geen voorbeeld hoegenaamd kan in die geskrifte van die
apostels gevind word, of in die gebruike van die Nuwe Testamentiese Kerk, wat
enige sweempie van verandering in die voorbeeld en lering wat hulle van
Christus ontvang het, aandui nie.
Om saam te vat: Die Sabbat verwys
ons terug na die
verlede: na die skepping, en herinner die mens aan sy Skepper; na die hede: diegene wat die sewende dag heilig hou, word daardeur herinner dat dit God is wat hulle van
sonde verlos het; na die toekoms: na die wederkoms van Jesus Christus en die vestiging van die
Koninkryk van God, wanneer daar rus sal wees vir die ganse mensdom (Hebreërs
4:4-10).
Ons glo in die onderhouding van die Nuwe Testamentiese Pasga
op die aand van die 14de van Abib, synde die herdenking van die dood van ons Verlosser
op daardie dag (Levitikus 23:5;
Lukas 22:13-14).
Toe Jesus die Nuwe Testamentiese Pasga met die nuwe simbole
van die brood en wyn ingestel het, het Hy van die wyn gesê, “dit is My bloed,
die bloed van die nuwe testament (of verbond).” Daardeur het Hy duidelik aangedui
dat die Pasga wat ons moet onderhou ʼn Nuwe-testamentiese of Nuwe-verbondse
seremonie is (“doen dit tot My gedagtenis”––Lukas 22:19). Boonop het Jesus
persoonlik hierdie gedenkseremonie ook as “hierdie
Pasga” geïdentifiseer (vers 15). Hy het dit op die voorgeskrewe datum
onderhou––die 14de van Abib volgens die Hebreeuse kalender––soos in Levitikus 23 vasgestel is vir jaarlikse
onderhouding.
Jesus het self die tyd van die
Nuwe Testamentiese Pasga op die aand voor Sy dood vasgestel. Paulus het
bevestig dat ons dit “in die nag waarin Hy verraai is,” moet onderhou (1
Korintiërs 11:23-26; Lukas 22:14-20; Johannes 13:1-17)––aan die begin van die
14de van Abib. Jesus het spesifiek die naam “Pasga” vir hierdie spesiale
gedenkdiens gebruik (Matteus 26:18; Lukas 22:8, 15). Hy het Sy dissipels beveel
hoe, wanneer en waar hulle moes voorberei vir hierdie uitbeelding van die dood
van die Messias (Lukas 22:7-13).
Die Nuwe Testamentiese Pasga gaan nie alleenlik oor die dood
van die “Lam van God” nie. Dit gaan ook oor Sy lyding (Lukas 22:15). Ons moet
die offer wat Hy gemaak het as geheel herdenk––beide Sy lyding en Sy dood. Sy
lyding, dood en begrafnis het alles op die 14de van Abib plaasgevind. Die
simbole van die brood en die wyn het die offerlammers van die Ou Testament
vervang (Eksodus 12), wat ʼn tipe, of uitbeelding, van Jesus Christus was.
Jesus, die Lam van God, is “ons Paaslam” (of Pasgalam) (1
Korintiërs 5:7). Die brood en wyn verteenwoordig Sy volkome offer––Sy lyding en
Sy dood.
Jesus se dood het die namiddag van die 14de van Abib
plaasgevind, maar Sy lyding het die aand voor Sy dood al begin, terwyl Hy nog
by Sy dissipels was. “En Hy neem Petrus en die twee seuns van Sebedéus saam en
begin bedroef en benoud word. Toe sê Hy vir hulle: My siel is diep bedroef tot
die dood toe; bly hier en waak saam met My” (Matteus 26:37-38).
Soos die Skrif voorskryf, herdenk ons Christus se dood as
ons Pasga aan die begin van die 14de––die nag toe Jesus verraai is, en onderhou
die Fees van Ongesuurde Brood van die 15de tot die einde van die 21ste. Die
Bybelse teks in hierdie verband is duidelik en dus is dit maklik om die
volgorde van gebeure te onderskei; naamlik dat die Dae van Ongesuurde Brood op
die Pasga volg.
Die brood en wyn gedenk die lyding en dood van Christus, ons
Pasga. Jesus Christus en
die dissipels het hul hele lewe lank die Pasga onderhou omdat hulle Jode was.
Maar nou was daar nuwe simbole. Christus het vir Sy dissipels die dieper
betekenis van die Pasga geleer deur die nuwe simbole en deur Sy uiteindelike
lyding en dood op die 14de van die eerste maand van die Hebreeuse kalender.
Nadat Hy vir Sy dissipels gesê het om die wyn te drink, het
Jesus gesê, “Want dit is My bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir
baie uitgestort word tot vergifnis van sondes” (Matteus 26:28). Christus se
instelling van die Pasgasimbole is in ooreenstemming met Sy rol as “die
Middelaar van die nuwe testament” (Hebreërs 12:24).
Deur Sy offer, het Hy eenmaal vir die ganse mensdom se
sondes gely (1 Petrus 3:18). Wanneer ons deelname het aan die brood en wyn,
herken ons dat Sy liggaam en bloed gegee is om ons sondes te bedek. Deur geloof
in die offer van Jesus Christus
word ons met die Vader versoen. Versoening verleen ons toegang tot die Vader,
en ons kan “dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons
barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word”
(Hebreërs 4:16). Dit is as gevolg van Sy offer dat ons geestelike fisiese,
verstandelike en emosionele genesing kan ontvang (Jesaja 53:4-5; Jakobus 5:14).
Wanneer ons die brood gebruik, simboliseer dit aan ons dat
Christus in ons leef (Johannes 6:53-54; Galasiërs 2:20). Verder toon ons ons
eenheid met Christus en met elke lid van die liggaam van Christus––die Kerk
(1 Korintiërs 10:16), asook ons gewilligheid om volgens die Woord van God
te lewe (Matteus 4:4).
Jesus se bevel aan ons is om die Pasgadiens tot Sy
gedagtenis te onderhou (Lukas 22:19-20). In 1 Korintiërs 11:20-26 sê Paulus
onomwonde dat die Kerk moet saamkom en “hierdie brood eet en hierdie beker
drink.” Die doel van hierdie seremonie is om “die dood van die Here (te)
verkondig totdat Hy kom” en dit verteenwoordig die enigste manier hoe die
mensdom met God die Vader versoen kan word. Paulus leer ons verder dat Jesus se
dood slegs die versoening moontlik maak—maar dat ons deur Sy lewe gered
word (Romeine 5:10).
Die voetewas-seremonie in die Pasgadiens is deur Jesus
ingestel. Nadat Hy die persoonlike voorbeeld van ʼn dienskneg aan ons
gestel het deur Sy dissipels se voete te was, het Hy die volgende duidelike
instruksie aan ons gegee, nl.: “As julle hierdie dinge weet, salig is julle as
julle dit doen” (Johannes 13:17).
Al drie elemente—die voetewas, die brood en die wyn—is deel
van die jaarlikse seremonie wat deur die United
Kerk van God onderhou word. Die seremonie word slegs eenmaal per jaar onderhou,
kort na sononder op die aand aan die begin van die 14de dag van die eerste
maand van die Hebreeuse kalender, soos deur die Woord van God vasgestel is.
Ons glo in die onderhouding van die sewe jaarlikse Heilige Dae wat God aan Israel van ouds gegee het, wat ook deur Jesus Christus onderhou is, asook die apostels en die Nuwe Testamentiese Kerk; en wat ook gedurende Christus se duisendjarige vrederyk deur die ganse mensdom onderhou sal word. Hierdie Heilige Dae openbaar God se verlossingsplan (Kolossense 2:16-17; 1 Petrus 1:19-20; 1 Korintiërs 5:8; 15:22-26; 16:8; Jakobus 1:18; Eksodus 23:14-17; Levitikus 23; Lukas 2:41-42; 22:14-15; Johannes 7:2, 8, 10, 14; Handelinge 2:1; 18:21; 20:16; Sagaria 14:16-21).
Toe God die volk Israel uit slawerny in Egipte bevry het,
het Hy beveel dat die nasie gedurende die verskillende oes-seisoene van die
jaar aan spesiale aanbiddingsseremonies moes deelneem (Eksodus 23:14-16;
Deuteronomium 16:1-17). God beskou hierdie Heilige Dae as Sy feeste:
“Die feestye van die Here wat julle moet uitroep as heilige samekomste—dit is My
feestye” (Levitikus
23:2-4). Die evangelieboodskap en God se verlossingsplan word deur die feesdae
uitgebeeld. Die fisiese oeste is uitbeeldings van die geestelike oeste van
mense, bewerkstellig deur God se verlossingsplan deur Jesus Christus (Matteus 9:37-38; Johannes
4:35; 15:1-8; Kolossense 2:16-17).
Die sewe jaarlikse Heilige Dae is jaarlikse Sabbatte. Hulle
is deur God beveel as gewyde byeenkomste of samekomste van Sy volk. Hierdie dae
is heilig omdat hulle deur God afgesonder is om heilig gehou te word. Hy beveel
Sy volk om op hierdie Sabbatte byeen te kom vir aanbidding en om van Hom en Sy
plan te leer. Sy bevel strek verder as slegs aanbidding; dit sluit ook die vreugdevolle
samesyn van medegelowiges in (Levitikus
23:1-4; Deuteronomium 14:23-26; Nehemia 8:1-12).
Die Nuwe Testament getuig van die getroue onderhouding van
hierdie dae deur Jesus Christus en
die Kerk. Jesus het hierdie feesgetye onderhou en ons, as Sy volgelinge, word
beveel om te wandel soos Hy gewandel het (Johannes 7:8-14; 1 Johannes 2:6). Die
Nuwe Testamentiese Kerk het op ʼn jaarlikse feesdag begin—“die dag van die
Pinksterfees” (Handelinge 2:1-4). Die apostels en dissipels van die vroeë Kerk
het aangehou met die onderhouding van hierdie feeste lank na Jesus se dood en
opstanding (Handelinge 18:21; 20:16; 27:9; 1 Korintiërs 5:8). Paulus
handhaaf hulle onderhouding en hou hulle voor as “skaduwees” van die groot
gebeurtenisse in God se verlossingsplan wat nog vervul moet word (Kolossense
2:16-17). Hy het ook vir die gemeente in Korinte gesê, “Laat ons dan feesvier”
(1 Korintiërs 5:8). Hy het hier in besonder na die Fees van Ongesuurde
Brood verwys.
Deur die onderhouding van hierdie feeste, fokus God Sy mense
op die werk van Jesus die Messias en word Sy volgelinge deur die jaar daaraan
herinner. Die verkondiging van die evangelie van die Koninkryk en God en Sy
roeping tot ʼn nuwe lewensweg (Johannes 6:44) versinnebeeld die
uiteindelike metamorfose van die Kerk as die familie van God. Deur Christus as
ons fokus, begin ons die spesiale betekenis van die jaarlikse feeste verstaan.
In die verloop van die sewe jaarlikse feestye is daar sewe
Heilige Dae, wat jaarlikse Sabbatte is. Hierdie Heilige Dae is die eerste en
laaste dae van Ongesuurde Brood, die Pinksterfeesdag, die Fees van Trompette
(of Basuine), die Versoendag, die eerste dag van die Huttefees, en die Laaste
Groot Feesdag. Alhoewel die Pasga ʼn feesdag is, is dit nie ʼn
jaarlikse Sabbat nie.
Die verlossingsplan wat in die Heilige Skrif openbaar word,
word deur die betekenis van hierdie sewe jaarlikse feeste uitgebeeld.
Die Pasga leer ons dat Jesus
Christus sondeloos was en, as die ware Lam van God, Sy lewe gegee
het sodat die sonde van die mensdom vergewe kon word en die doodstraf verwyder
kan word (1 Korintiërs 5:7; 1 Petrus 1:18-20; Romeine 3:25). Die Pasga is
die eerste fees van die jaar, alhoewel dit nie as ʼn Heilige Dag onderhou
word nie.
Die Fees van Ongesuurde Brood leer ons dat ons
geroepe is om wetteloosheid te verwerp en ons van sonde te bekeer. Ons moet
leef van elke woord van God en volgens die leringe van Jesus Christus (Matteus 4:4). Gedurende
hierdie fees word sonde deur suurdeeg en ander rysmiddels gesimboliseer, wat
dan vir die sewe dae van die fees uit ons tuistes verwyder word (1 Korintiërs
5:7-8; Eksodus 12:19). Die eet van ongesuurde brood beeld vir ons ʼn lewe
uit van opregtheid en die navolging van die waarheid, vry van sonde.
Die Fees van Weke, ook genoem Fees van die Oes,
Eerstelinge, of Pinksterfees, leer ons dat Jesus
Christus gekom het om Sy Kerk op te rig. Hierdie fees beeld die
koms van die Heilige Gees uit, en die totstandkoming van die Nuwe-testamentiese
Kerk. Die eerstelinge van die Gees is diegene wat die ewige lewe met die
wederkoms van Christus sal beërwe. Hulle is deur die Heilige Gees bemagtig, wat
in elkeen ʼn nuwe hart en natuur skep om volgens die gebooie van God te
lewe (Eksodus 23:16; Handelinge 2:1-4, 37-39; 5:32; Jakobus 1:18).
Die Fees van Trompette leer ons dat Jesus Christus sigbaar na die aarde gaan
terugkeer aan die einde van dae. Dan sal Hy die afgestorwe heiliges uit die dood
opwek en die heiliges wat nog leef, verander na onsterflike geesteswesens
(Matteus 24:31; 1 Korintiërs 15:52-53; 1 Tessalonisense
4:13-17). Hierdie fees herdenk die trompetgeskal wat Christus se wederkoms sal
voorafgaan. Sewe engele met sewe trompette word in Openbaring 8-10
beskryf. Christus sal terugkom met die sewende trompetgeskal (Openbaring 11:15).
Die Versoendag leer ons dat Jesus Christus Sy lewe gegee het ter
versoening vir die sondes van die mensdom. Dit dui ook op die tyd wanneer Satan
vir 1000 jaar gebind sal wees (Levitikus
16:29-30, 20-22; Openbaring
20:1-3). Hierdie Heilige Dag beeld ons Hoëpriester, Jesus Christus, uit wat vir ons sondes geoffer
is sodat ons met God versoen kan word en toegang tot die heiligdom kan verkry
(Hebreërs 9:8-14; 10:19-20). Deur op hierdie dag te vas, kom ons nader aan God
en beeld die versoening tussen God en die mensdom uit. Christus word in hierdie
proses as ons Hoëpriester uitgebeeld (Hebreërs 4:14-15; 5:4-5, 10) en as ons
ewige offer vir sonde (Hebreërs 9:26-28).
Die Huttefees leer ons dat wanneer Jesus Christus terugkom, ʼn nuwe
samelewing gevestig sal word met Christus as Koning van die konings en Here van
die here en, bygestaan deur die verrese heiliges, sal Hy Sy regering op die
aarde oprig synde die duisendjarige vrederyk (Openbaring
19:11-16; 20:4; Levitikus
23:39-43; Matteus 17:1-4; Hebreërs 11:8-9). Christus se wêreldregering en Sy
Wette sal vanaf Jerusalem versprei na die uithoeke van die wêreld om ʼn
tydperk van weergalose vrede en ongehoorde voorspoed in te lui (Jesaja 2:2-4;
Daniël 2:35, 44; 7:13-14).
Die Laaste Groot Dag, of agtste dag, leer ons dat Jesus Christus Sy oes van mense gaan voltooi
deur alle afgestorwe mense op te wek wat in die verlede nooit ʼn
geleentheid gehad het om gered te word nie, en die saligheid ook vir hulle aan
te bied (Esegiël 37:1-14;
Romeine 11:25-27; Lukas 11:31-32; Openbaring
20:11-13). Hierdie opstanding en periode sluit die biljoene in wat deur die
eeue nooit van Christus gehoor het nie (Handelinge 4:12), kindertjies wat baie
klein dood is, ens.
Die jaarlikse siklus van Feesgetye en Heilige Dae herinner
Christus se volgelinge daaraan dat Hy besig is om Sy plan uit te voer om
verlossing van sonde en die dood, en die gawe van die ewige lewe in die familie
van God aan die ganse mensdom te bied—insluitend die verlede, die hede, en die
toekoms.
Ons glo dat die vleissoorte wat in Levitikus 11 en
Deuteronomium 14 deur God as “onrein” uitgesonder word, nie geëet mag word nie.
Die Skrif
openbaar dat God die groot verskeidenheid van dierelewe wat ons planeet bewoon,
geskape het en dat sommige diere spesifiek vir die mensdom as voedsel geskape
is (1 Timoteus 4:3). Alhoewel ʼn Christen nie verplig is om vleis te
eet nie, word die verskeie vorme van vegetarisme wat as ʼn
godsdiensvereiste beoefen word, as ʼn geestelike swakheid beskou (Romeine
14:2).
Dit is nie
duidelik presies wanneer God die eerste keer die verskil tussen “rein” en
“onrein” diere openbaar het nie. Die feit dat daar nie ʼn spesifieke
voorskrif oor hierdie kwessie te vinde is nie, is geen bewys dat daar nie wél
so ʼn bevel gegee is nie. Alhoewel daar min duidelike bevele in die vroeë
bladsye van die Bybel is, openbaar die opgetekende voorbeelde dat die norme van
reg en verkeerd duidelik bekend was. Byvoorbeeld, daar is geen opgetekende
gebod teen moord voor Kain sy broer, Abel, vermoor het nie, maar niemand kan
daaruit aflei dat moord vóór daardie tyd aanvaarbaar was nie. Die boek Genesis
kan beskryf word as die boek van oorsprong. Die boek is deur Moses geskryf as
ʼn historiese optekening van wat plaasgevind het, nie ʼn boek van wette
nie. Lesers moet dus nie aanvaar dat die wet nie vanaf die begin af bestaan het
nie. Genesis 4:7 verwys, byvoorbeeld, na “sonde” wat die oortreding van God se
Wet is.
Die eerste
optekening in die Skrif aangaande “rein” en “onrein” diere vind ons in Genesis
7:2, waar Noag beveel is om sewe (of sewe pare) rein diere en slegs een paar
onrein diere in die ark te neem. Toe God vir Noag gesê het om ʼn reuse ark
te bou, het Hy uitdruklike aanwysings gegee aangaande die grootte, samestelling
en ontwerp daarvan, maar tog het God dit nie nodig geag om vir Noag instruksies
te gee oor watter diere rein, en watter onrein was nie. Noag het alreeds oor
daardie inligting beskik.
Toe die groot
vloed verby was, het God vir Noag gesê, “Alles wat beweeg en lewe, sal julle
voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek dit alles aan julle” (Genesis
9:3). Die vorige vers verduidelik dat, alhoewel daar min mense oorgebly het, en
daar groot en gevaarlike diere bewaar is, was dit nie nodig dat Noag en sy
familie hierdie diere moes vrees nie.
Vers 3 dui aan
dat die diere vir die mens se voordeel daar was. Hulle is, net soos die groen
plante, in die mens se hand oorgegee. Sommige groen plante is geskik vir
voedsel, sommige is geskik vir boumateriale, sommige is daar vir versiering en
genot, en ander is weer giftig en kan siekte of die dood meebring as dit geëet
word. In dieselfde trant, is sommige diere geskik vir gebruik as voedsel,
terwyl ander vesel voortbring vir klerasie, en die krag van ander aangewend kan
word om landerye te bewerk en teen gevare te beskerm.
Waar diere in die
Skrif genoem word as ʼn voedselbron of in verband met offers vóór die Berg
Sinai, verwys dit sonder uitsondering na rein diere (Genesis 15:9—vers, bokooi,
ram, tortelduif, jong duif; Genesis 22:13—ram; Eksodus 12:5—skaap of bok). Die
wette van rein en onrein vleis het duidelik die Ou Verbond voorafgegaan, ongeag
van watter rol hulle in daardie verbond gespeel het.
Toe die Levitiese
stelsel ingestel is, was dit nodig om ʼn aantal reëls op skrif te stel wat
alreeds geruime tyd in werking was. Twee Skrifgedeeltes, Levitikus 11:1-47 en
Deuteronomium 14:3-21, verduidelik watter diere geskik is vir voedsel, en
watter nie, alhoewel hierdie Skrifgedeeltes gebruike opteken wat lank voor die
Levitiese stelsel alreeds bestaan het. Die term rein word gebruik vir diere waarvan die vleis
geskik is vir voedsel, terwyl die term onrein gebruik word vir voedsel
wat nie geskik is vir voedsel nie.
Die Skrif
openbaar nie presies waarom God sekere diere se vlees onderskei het as geskik
vir voedsel terwyl ander vleis nie geskik is nie. Wat die rede ook al mag wees,
God weet waarom en hoe Hy elke dier geskape het, en Hy sonder sekere
vleissoorte uit as geskik om geëet te word, en ander as nie geskik nie.
Verskeie
Skrifgedeeltes in die Nuwe Testament dui aan dat die wette van rein en onrein
vleis deur Jesus Christus en Sy volgelinge onderhou is. Al was die godsdienstige leiers ook hóé
gretig om Jesus te beskuldig van oortredings van hulle vertolkings van
godsdienstige wette, is daar geen getuienis dat hulle Hom ooit aangespreek het
oor Sy leringe of gebruike in hierdie opsig nie. As Hy enigsins ʼn
voorstander was van die eet van onrein vleis, sou dit ʼn gulde geleentheid
gebied het om Sy aansien by die menigtes te beswadder, aangesien hulle so iets
uiters afstootlik sou gevind het. Indien Jesus se woorde in Markus 7 in daardie
dae so dikwels verkeerd aangehaal en verdraai was soos dit vandag word, sou die
godsdiensleiers woedend gewees het. Die misbruik van Markus 7 as gronde om
onrein vleis te eet, is gebaseer op ʼn verskillende gebruik van grammatika
wat slegs in ʼn paar van die Griekse manuskripte gevind word.
Handelinge 10
beeld die Nuwe Testamentiese Kerk se begrip van rein en onreine vleis op ʼn
kragtige wyse uit, alhoewel dit nie die hoofdoel van die visioen was nie.
Petrus het ʼn visioen van God ontvang wat hom beveel het om die
evangelieboodskap aan die nasies en volke buite die Joodse gemeenskap uit te
dra. Gedurende hierdie visioen het Petrus drie keer geweier om van die onrein
diere te eet wat vir hom gewys is en hy was steeds deur die veld geslaan oor
die betekenis van die visioen totdat God openbaar het dat dit oor mense gegaan het en nie oor rein en onrein
diere nie. Dit is aan Petrus geopenbaar dat hy “geen mens onheilig of
onrein mag noem nie” (Handelinge 10:28-29).
Hierdie hoofstuk
eindig met die uitstorting van die Heilige Gees op Cornelius “met sy hele huis”
as bewys dat die evangelie nou aan alle nasies verkondig sou word (verse 2,
44-48). Alhoewel hierdie Skrifdeel al misbruik is as toestemming om onrein
diere te eet, toon dit duidelik op die teenoorgestelde. Hierdie gebeurtenis
vind ʼn aantal jare ná die begin van die Nuwe Testamentiese Kerk plaas, en
nogtans verwerp Petrus die blote gedagte om onrein vleis te eet, en gaan selfs
so ver om te betuig dat hy “nooit iets onheiligs of onreins geëet het nie”
(vers 14).
Paulus het
geskryf van “voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word
deur die gelowiges en die wat die waarheid ken” en “dit word geheilig deur die
woord van God en die gebed” (1 Timoteus 4:3, 5). Die woord “geheilig” wat gebruik word om hierdie
diere te beskryf, dra die tweeledige betekenis van “afgesonder van iets”
sowel as “afgesonder vir iets”. Die rein diere is duidelik deur die
Woord van God uitgesonder van alle ander diere en kan deur die mens as voeding
gebruik word. Die vlees van die diere wat as voedsel uitgesonder word, moet met
danksegging ontvang word deur diegene wat die waarheid ken en glo.
Om hierdie redes
leer die United Kerk van God onthouding van onrein vleis, gegrond op bogenoemde
aanwysings en voorbeelde.
Ons glo dat Christene deur die Gebooie van God verbied word
om menselewens te neem—ongeag die omstandighede—en dat die dra van wapens
teenstrydig is met hierdie fundamentele geloof. Daarom glo ons dat Christene
nie vrywilliglik in militêre diens betrokke moet raak nie. Indien hulle verplig
word om militêre diens te verrig, glo ons dat hulle in die beoefening van hulle
geloof, behoort te weier om wapens te dra en dat hulle, sover moontlik, behoort
te weier om hulle aan militêre gesag te onderwerp (Eksodus 20:13; Matteus
5:21-22; 1 Korintiërs 7:21-23; Handelinge 5:29).
God se weg is die weg van liefde, opoffering en
mededeelsaamheid (Romeine 12:1, 10). God se lering omtrent die neem van ʼn
mens se lewe word só in die Sesde Gebod opgesom: “Jy mag nie doodslaan nie”
(Eksodus 20:13). Christus het ʼn groot beginsel aangehaal toe Hy gesê het,
“Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matteus 22:39). Paulus het gesê, “Die
liefde doen die naaste geen kwaad nie) (Romeine 13:10).
Jesus het verklaar “My Koninkryk is nie van hierdie wêreld
nie; as My Koninkryk van hierdie wêreld was, sou My dienaars geveg het...”
(Johannes 18:36). God se geestelike Israel bestaan nie meer uit die twaalf
fisiese stamme nie. Mense van alle nasies is nou in geestelike Israel ingeënt
en is deel van die geestelike Liggaam van Christus (Galasiërs 3:26-29). As
Christene, het God ons verlos “uit die mag van die duisternis (Satan), en
oorgebring in die Koninkryk van die Seun van Sy liefde” (Kolossense 1:11-13).
Ons burgerskap is nou “in die hemele” (Filippense 3:20). Ons
moet die voorbeeldige gedrag en optrede van Jesus navolg (1 Petrus 2:21;
1 Johannes 1:6). Christus het nie kwaad met kwaad vergeld nie. Toe Hy
uitgeskel is, het Hy nie teruggeskel nie, en toe Hy gely het, het Hy nie met
vergelding gedreig nie. Hy het leed verdra deur onregverdig te ly en dit
geduldig verduur omdat dit Sy begeerte was om God te verheerlik (1 Petrus
2:19-23; 4:1, 13-16). Christus het geleer dat, indien ons vir ons broer kwaad
word, dit tot sonde aanleiding kan gee (Matteus 5:21-22). Ons moet ons vyande
liefhê en goed doen aan dié wat vir ons haat “... Maar Ek sê vir julle: julle moet julle vyande liefhê; seën die wat
vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat
julle beledig en vervolg” (Matteus 5:43-44). Ons mag ons ook nie wreek nie; die
wraak kom God toe (Romeine 12:19).
Ons is nou reeds soldate van Christus, en Hy
alleen bepaal wie die vyand is. Ons oorlogvoering as Christene vind in die
geestelike arena plaas (Efesiërs 6:10-20). Ons voer ons worstelstryd nie
volgens die vlees nie (2 Korintiërs 10:3-4), maar teen die owerhede, teen die
magte, teen die wêreldheersers van die duisternis (Efesiërs 6:12). Ons moet
goeie krygsmanne van Jesus Christus wees
(2 Timoteus 2:3-4). Dit is ons roeping in die lewe. ʼn Christen moet
somtyds ʼn keuse uitoefen—indien daar botsende belange is—tussen die wette
van die mens en die wette van Almagtige God. Wanneer dit gebeur, moet die
Christen God se wette gehoorsaam (Handelinge 5:29; 1 Petrus 2:13-14), want Hy
is die Hoër Gesag.
Die meeste lande se weermagte het hulle eie reëls en
regulasies. ʼn Persoon in so ʼn weermag het nie vryheid om self te
besluit wat hy of sy wil doen nie. Daarom is dit wys om te voorkom dat ʼn
mens jouself in so ʼn situasie laat beland, aangesien ʼn lid van ʼn
weermag onderdanig is aan gesag en daar mag dan van ʼn Christen verwag word
om ʼn ander mens se lewe te neem. Die apostel Paulus sê ons moenie slawe van mense word nie (1 Korintiërs
7:23).
Om hierdie redes ondersteun die United Kerk van God sy lede se diensweiering van militêre en oorlogvoeringsdiens op gewetensgronde.