GELOOFSTELLINGS

van die

United Kerk van God 

Inhoud

 God die Vader, Jesus Christus en die Heilige Gees
Die Woord van God

Satan die Duiwel
Die Mensdom
Sonde en God se Wet
Die Offer van Jesus Christus
Drie Dae en Drie Nagte
Bekering
Die Doop
Die Sabbatdag
Die Pasga
Die Feeste van God
God se Voedselwette
Militêre Diens en Oorlog
Beloftes aan Abraham
God se Doel vir die Mensdom

Die Kerk

Tiendes
Die Opstandings
Die Wederkoms van Jesus Christus


 

Voorwoord: 

Hierdie is ʼn baie kort samevatting van die hoof leerstellings van die United Kerk van God. Indien u ʼn meer in-diepte studie van ʼn onderwerp wil maak, klik net op die skakel/s aan die einde van die betrokke hoofstuk en meer volledige leesstof oor die betrokke onderwerp sal op u rekenaarmonitor verskyn. (Hierdie in-diepte leesstof is tans slegs in Engels beskikbaar, maar vertalings in Afrikaans geniet prioriteit.)

Bybel: Die Ou Afrikaanse Vertaling van 1933/1953 word deurgaans gebruik. (Enige uitsonderings word aangedui.)


God die Vader,  Jesus Christus en die Heilige Gees

Ons glo in een God, die Vader, wat van alle ewigheid af bestaan, wat Gees is, ʼn persoonlike Wese wat oor die allerhoogste intelligensie, kennis, liefde,geregtigheid, mag en gesag beskik. Hy is die Skepper van die hemele en die aarde en alles wat daarin is, deur Jesus Christus. Hy is die Bron van alle lewe en die Een vir wie die mensdom geskape is. Ons glo in een HERE, Jesus Christus van Nasaret, wat “die Woord” genoem word en wat van ewigheid af bestaan. Ons glo dat Hy die Messias is, die Christus, die goddelike Seun van die lewende God, verwek deur die Heilige Gees, gebore uit die menslike vlees van die maagd Maria. Ons glo dat God die Vader alles deur Jesus Christus geskape het want “alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan nie.” Ons glo in die Heilige Gees as die Gees van God en van Christus. Die Heilige Gees is die krag van God en die Gees van die ewige lewe (2 Timoteus 1:7; Efesiërs 4:6; 1 Korintiërs 8:6; Johannes 1:1-4; Kolossense 1:16).

Ons glo dat God se soewereiniteit oor die ganse heelal geld, en dat Hy as die Allerhoogste oor alles regeer. God is gees (Johannes 4:24), en bestaan in ʼn ryk wat verskil van dié van die mens, wat vlees is. Ons begrip en persepsie van God is gegrond op Sy openbaring van Homself deur Sy geskrewe Woord, die Bybel.

Die Bybel openbaar God as die “Vader” en Jesus Christus as Sy “Seun.” Die onderskeid tussen die twee is reeds aan die begin van God se openbaring (Genesis 1:1) al duidelik, waar die Hebreeuse woord Elohim gebruik word (Elohim is die meervoud van die Hebreeuse woord vir God, Eloah). Daar was van die begin af kommunikasie tussen hierdie twee Wesens, soos die voorbeeld in Genesis 1:26 toon. Hier word die voornaamwoord “ons” verskeie kere gebruik en verwys na Elohim.

Die Ou Testament fokus op die God van Israel, wat Homself identifiseer as “EK IS” en “die HERE, die God van ... Abraham ... van Isak en ... van Jakob” (Eksodus 3:14-15). (Die woord HERE word afgelei van die Hebreeuse YHWH). In Johannes 8:58 verwys Christus na Homself as “Ek is.” Hierdie is dieselfde God wat die Israeliete uit Egipteland uitgelei het (Eksodus 20:2), hulle in die wildernis begelei het, en wat later in die Nuwe Testament as Jesus Christus bekend was (1 Korintiërs 10:4). Beide die Ou en die Nuwe Testamente verwys na meer as een Persoon in die Godheid (by voorbeeld, Psalm 110:1, wat in Handelinge 2:29-36 aangehaal word). Die Nuwe Testament identifiseer Hulle as God die Vader en Jesus Christus die Seun (1 Korintiërs 8:6). Die Seun word ook God genoem (Hebreërs 1:8-9).

Jesus Christus word die “Woord” genoem, wat in die begin “by God” was en ook as “God” geïdentifiseer word (Johannes 1:1-2). Hy het alle dinge geskape (verse 3, 10), en het later vlees geword en onder mense gewoon (Johannes 1:14). Hy word ook “die eersgeborene onder baie broeders” genoem (Romeine 8:29). Die mens het die wonderlike potensiaal en voorreg om deel te kan word van die God-familie (Romeine 8:14, 19; Johannes 1:12; 1 Johannes 3:1-2).

Die verwantskap tussen die Woord en die Vader word duideliker in die Nuwe Testament omskrywe: “die Woord het vlees geword” (Johannes 1:14; Filippense 2:5-11); Hy het die Vader aan Sy dissipels geopenbaar (Matteus 11:25-27); is vir die vergiffenis van ons sondes geoffer, het uit die dood opgestaan en is nou weereens deur die Vader verheerlik (Johannes 17:5) en sit aan Sy regterhand, vanwaar Hy sal kom om te oordeel die lewende en die dode.

Die Nuwe Testament beklemtoon die eenheid tussen die “Vader” en “Seun,” maar maak tog die onderskeid tussen die twee duidelik in veelvuldige skrifture (bv. Johannes 20:17; Romeine 15:6). Ons lees in Efesiërs dat God “alles geskape het deur Jesus Christus” (Efesiërs 3:9; lees ook Hebreërs 1:1-3). Die verwantskap tussen die Vader en die Seun toon God se volmaakte en ewige leefwyse. Die Vader het die Seun voor die grondlegging van die wêreld liefgehad, en die Seun het die Vader nog altyd liefgehad (Johannes 17:4; 20-26).

Die absolute harmonie tussen die Vader en die Seun is ʼn eenheid van gesindheid, koersvastheid en doelgerigtheid, wat Jesus Christus die Vader gevra het om ook tussen Sy dissipels, Homself, en die Vader te bewerkstellig (verse 20-23).

Die naam “God,” soos in die Bybel gebruik word, kan ʼn verwysing wees na óf die Vader (bv. Handelinge 13:32-33; Galasiërs 4:6), óf na Jesus Christus die Seun (bv. Jesaja 9:6; Johannes 1:1, 14), of albei (bv. Romeine 8:9), afhangend van die teksverband van die skriftuur. Die krag en gees wat uit God uitstraal, word die Gees van God of die Heilige Gees genoem (Jesaja 11:2; Lukas 1:35; Handelinge 1:8; 10:38; 2 Korintiërs 1:22; 2 Timoteus 1:7). Die Heilige Gees van God word nie as ʼn derde persoon in ʼn drie-eenheid geïdentifiseer nie, maar word konsekwent as die geestelike mag van God beskryf. Die Heilige Gees word aan die mens gegee wanneer ʼn persoon tot bekering kom en gedoop word (Handelinge 2:38) om as ʼn “onderpand” (of “deposito”) te dien (2 Korintiërs 1:22; en 5:5; Efesiërs 1:14). (Vir ʼn meer breedvoerige inligting oor die Heilige Gees, vra gerus ons gratis artikel, “Wat is die Heilige Gees?” aan)

God wil hê ons moet Hom ken sodat ons vertroue in Hom kan hê en Hom sal liefhê. Hy het baie meer oor Homself onthul deur die name wat Hy aan diegene openbaar het met wie Hy deur die eeue heen gewerk het. Hierdie name openbaar dat God opperste intelligensie besit, mag, heerlikheid en wysheid; dat Hy die verpersoonliking van alle geregtigheid, volmaaktheid en waarheid is; dat Hy die hemele en die aarde besit; dat Hy almagtig en onsterflik is en alle lof waardig is. God is ons voorsiener, geneser, skild, verdediger, raadsman, leraar, wetgewer, regter, ons krag en verlosser. Hy is getrou, genadig, vrygewig, geduldig, goedhartig, regverdig en barmhartig. God verhoor ons gebede, gaan ʼn verbond met ons aan, is ʼn toevlug in nood, gee vir ons kennis en begeer om vir ons onsterflikheid te gee sodat Hy ook die ewige lewe met ons mag deel.

Terug na Inhoud


Die Woord van God

Ons glo dat die Skrif, beide die Ou en Nuwe Testamente, God se openbaring en die uitdrukking van Sy volkome wil aan die mensdom is. Die Skrif is geïnspireer in gedagte en woord, onfeilbaar in die oorspronklike Geskrifte; die allerhoogste en uiterste gesag in die geloof en die lewe, en die grondslag van alle waarheid (2 Timoteus 3:16; 2 Petrus 1:20-21; Johannes 10:35 en 17:17). 

Die Ou en Nuwe Testamente vorm saam ʼn eenheid om God se verlossingsplan aan die mensdom te openbaar en te volvoer. Die Bybel in totaliteit openbaar God se genadiglike ingryping om die mensdom te red sodat hulle uiteindelik die ewige lewe in Sy Familie kan beërwe. Elke skrywer in die Bybel se individuele persoonlikheid, styl en woordeskat word in hulle verskillende boeke weerspieël. Hulle het egter geskryf soos die Heilige Gees hulle geïnspireer het (2 Petrus 1:21). God het dus die verstand van Sy diensknegte beïnvloed en gelei, maar hulle tog vryheid van uitdrukking toegelaat terwyl hulle die boeke geskryf het wat gesamentlik bekend staan as die Woord van God.

Die Heilige Skrif is die enigste grondslag van kennis en waarheid wat Jesus en die apostels as basis gebruik het om God se weg tot saligheid te leer. In die eerste plek het Jesus Christus die voorbeeld gestel deur die Skrif as die uiteindelike gesaghebbende teks in ʼn Christelike lewe na te volg. Toe Hy die versoekings van Satan suksesvol teengestaan het, het Christus gesê, “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” [ons eie beklemtoning] (Matteus4:4, Lukas 4:4; Deuteronomium 8:3). Christus het ook ander Skrifture aangehaal tydens Sy stryd teen die aartsvyand, die duiwel (Matteus 4:7, 10).

Daarna het Christus Sy aardse bediening begin deur die Skrif te lees en te verklaar, bv. “Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul” (Lukas 4:16-21). In Johannes 10:35, het Christus verklaar dat “die Skrif nie gebreek kan word nie.” Hy het die Skrif as ʼn aktiewe, gesaghebbende bron in Sy lewe toegepas (Johannes 7:38; 42). Niks kon Christus se aandag van die Skrif aftrek nie––nie verraad, of selfs Sy kruisiging nie (Johannes 13:18; 17:12; 19:28; Matteus 27:46; Psalm 22:2; Lukas 23:46; Psalm 31:6).

Die apostels het die voorbeeld van Christus nagevolg. Die kern van die Christelike geloof, leerstellings en gedrag is deurgaans deur die Skrif bepaal. Die verrese Jesus Christus het die persoonlike onderrig van Sy dissipels hervat en “Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan” (Lukas 24:32, 44-45). Dit was deur die Skrif dat dissipels “van al die nasies” gemaak is (Matteus 28:19), waarvan die voorbeeld van die Ethiopiese hofdienaar van Handelinge 8:26-35 getuig.

Paulus, die apostel wat geroep is tot verkondiging van die evangelie onder die heidene (of nie-Israeliete), het hom tot die gesag van die Skrif gewend deur vrae te vra soos, “Wat sê die Skrif?” (Romeine 4:3; 11:2; Galasiërs 4:30). By ander geleenthede het Paulus sy standpunte bevestig deur te verklaar, “Want die Skrif sê …” en soortgelyke stellings (Romeine 10:11; Galasiërs 3:8, 22; 1 Timoteus 5:18) bevestig sy klem op die Skrif as finale outoriteit. Die Ou Testament en die Nuwe Testament is dus duidelik vir beide Joodse en heidense (nie-Israelitiese) Christene geskryf.

Daar is ʼn deurlopendheid tussen die Ou en die Nuwe Testamente (Matteus 4:4; 2 Timoteus 3:15-16). Die Nuwe is gegrond op die Oue, en vergroot en brei dit uit (Matteus 5 tot 7). Die geskiedenis bewys dat die enigste Skrif wat gedurende die bediening van Christus en die vroeë jare van die apostels bestaan het, die Ou-Testamentiese Skrif was.

Die lees, hoor en beoefening van God se Woord is die uitstaande kenmerke van God se volk (Lukas 8:21; 11:28). Die Woord van God bring geloof in ʼn persoon se lewe voort (Romeine 10:17; Kolossense 3:16). God verwag van Sy mense om Sy Woord gereeld en ywerig te bestudeer vir begrip, vir persoonlike groei en om hulself te beskerm in ʼn goddelose samelewing (Handelinge 17:11; Efesiërs 6:17; 1 Johannes 2:14; Psalm 119:9). God se Woord is ons geestelike voedsel, ons daaglikse geestelike brood. Wanneer dit geëet, verteer en geabsorbeer word, word dit deel van ons denkwyse en optrede. Dit versterk ons en stel ons in staat om ons geloof te verdedig (1 Petrus 3:15). Die Heilige Skrifte kan ons “wys maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2 Timoteus 3:15-17).

Die Bybel is die lewende woord met eindelose toepassings in ons daaglikse lewe (Hebreërs 4:12). Terwyl Paulus gevange was, het hy Timoteus daaraan herinner dat, alhoewel die mens gebonde mag wees, die Woord van God nie gebonde kan wees nie (2 Timoteus 2:8-9).

Die Kerk van God handhaaf die Bybelse mandaat om op Gods Woord staat te maak in sy strewe na die Waarheid. Soos ons uit 2 Timoteus 3:16 leer, is “die hele Skrif deur God ingegee” tot vestiging van leerstellings, weerlegging van foute, uitvoering van teregwysing, en onderwysing in die geregtigheid. Die waarhede van die Bybel leer en lei God se mense, en boonop heilig dit Sy Kerk en sonder dit af van die wêreld (Johannes 17:17). Die Bybel dien as ʼn noodsaaklike instrument in God se verhouding met Sy Kerk, “om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord” (Efesiërs 5:26).

 Terug na Inhoud


Satan Die Duiwel 

Ons glo dat Satan ʼn geesteswese is wat die teenstander en aartsvyand van God en Sy kinders is; Satan is heerskappy oor die wêreld gegee vir ʼn vasgestelde tydperk; Satan het die mensdom bedrieg en oorreed om God en Sy Wet te verwerp; Satan regeer deur bedrog en word ondersteun deur ʼn menigte rebelse engele (nou demone genoem) wat Satan in sy opstand teen God gevolg het (Matteus 4:1-11; Lukas 8:12; 2 Timoteus 2:26; Johannes 12:31; & 16:11; Openbaring 12:4, 9; & 20:1-3, 7, 10; Levitikus 16:21-22; 2 Korintiërs 4:4, & 11:14; Efesiërs 2:2).


Satan is God se aartsvyand, soos die betekenis van sy naam in beide Hebreeus en Grieks duidelik aandui. Hy opponeer God om elke hoek en draai, en by elke geleentheid wat hy kan kry. Hy verafsku God se Plan, veral omdat dit openbaar dat God mense voorberei om tot die God-familie toegevoeg te word. As gevolg hiervan, haat hy ook die hele mensdom. Hy is die groot misleier van die mensdom, asook die een wat God se mense dag en nag by Hom aankla (Openbaring 12:9-10). Christus het gesê die duiwel is ’n mense-moordenaar, ’n leuenaar en die vader van leuens (Johannes 8:44). Hy word beskryf as ’n brullende leeu wat rondloop op soek na wie hy kan verslind(1 Petrus 5:8).

Satan is beslis nie sommer net ’n gewone opponent nie. Hy is uiters vindingryk, en is ’n slinkse en sluwe teenstander. Sy einddoel en motivering is om te verhoed dat die mensdom deur God gered word. Ten einde hierdie hoofdoelwit te bereik, verlei en mislei hy mense om teen God te rebelleer deur te sondig (Efesiërs 6:11-18; 2 Korintiërs 2:11; Lukas 8:12).

Satan is magteloos om buite die perke en parameters wat God vir hom neergelê het, op te tree (Job 1:12; 2:6). Job se verhaal bevat ook ’n raak beskrywing van Satan se vyandige, beskuldigende geaardheid en beeld hom uit as ’n werklike, lewende persoon. Hy het aan Jesus Christus verskyn as ’n werklike wese en Hom probeer verlei (Matteus 4:1-11). Satan se heerskappy as die god van hierdie wêreld sal beëindig word wanneer die sewende en laaste basuin weerklink wat die wederkoms van Christus aankondig (1 Korintiërs 15:52; 1 Tessalonisense 4:16; Openbaring 11:15), alhoewel hy ná die Millennium vir een laaste, kort tydjie losgelaat sal word (Openbaring 20:3).

Satan se bedrywighede is beperk tot dit wat God hom toelaat en net so is sy tyd ook ingeperk. Sy dae is dus getel. Hy is tans “die god” en “die owerste van hierdie wêreld” (2 Korintiërs 4:4; Johannes). Maar hy sal met Christus se wederkoms uit daardie amp onttroon word (Openbaring 12:9-12). Hy sal gebind word vir die volle tydperk van die Messias se duisendjarige vrederyk. “Daarna moet hy dan ʼn kort tydjie ontbind (losgelaat) word” (Openbaring 20:1-3; 7-8). Satan word vir 1000 jaar skadeloos gestel deur die Messias.

Satan was oorspronklik as ʼn aartsengel met hoë amp en gesag deur God geskape (Esegiël 28:14, 16). In Jesaja 14:12 word hy “môrester, seun van die dageraad” genoem. In Engelse vertalings soos die King James Version en die New King James, word hy Lucifer genoem. Ander Engelse vertalings sê “star of the morning,” “bright star” of “morning star” (New American Standard Bible, Revised English Bible, New International Version). Die Nuwe Afrikaanse Vertaling sê “Jy wat die helder môrester was...” Die Ou Vertaling, Esegiël 28:14, lui: “Jy was ʼn gérub met uitgespreide vlerke wat beskut” Dit blyk dat hy ʼn rang gelyk aan dié van Migael, die aartsengel, geniet het (Judas v.9). Hy was as ʼn perfekte en vlekkelose wese geskape, maar het mettertyd die weg van sonde en rebellie teen sy Skepper gekies (Esegiël 28:12, 15, 17). ʼn Derde van die engele het hom in sy opstand teen God gevolg, en Jesus Christus het as persoonlike ooggetuie, hiervan melding gemaak (Openbaring 12:4; Lukas 10:18). Hy en sy mede-engele (demone) wat saam met hom in opstand teen God gekom het, het gepoog om God te onttroon, maar is deur God se mag en Sy leërskare verslaan en is neergewerp (Jes. 14:12-15; 2 Petrus 2:4). Die koninkryk van Satan word nou gekenmerk deur duisternis, in plaas van lig (Lukas 22:53; Efesiërs 6:12; Kolossense 1:13).

Onder sekere omstandighede is die duiwel en sy demone in staat om besit en beheer te neem van mense en selfs diere (Matteus 8:28-33; 9:32-34). Die verraaier, Judas Iskariot, is deur Satan self ingevaar en besete (Lukas 22:3). Christus, wie se mag groter as Satan sʼn is, het gedurende Sy aardse bediening duiwels uitgedrywe en het aan andere ook hierdie mag gegee (Markus 16:17).

Die Skrif gebruik verskillende name en beskrywings om na Satan te verwys ten einde sy bose karaktereienskappe en perverse optredes te openbaar. Onder hierdie benamings is die Duiwel, Apollion (Gr.), Abaddon (Heb.), Belial, Beëlsebul, die groot draak, en die owerste van die mag van die lug.

 Terug na Inhoud


Die Mensdom

Ons glo dat die mensdom na die beeld van God geskape is met die potensiaal om kinders van God te word, deelgenote van die goddelike natuur. God het die mens uit stoflike materie––vlees––gemaak. Die mens is afhanklik van suurstof, is sterflik, onderworpe aan verganklikheid, sonder ewige lewe (die ewige lewe is ʼn genadegawe van God, onderworpe aan Sy voorwaardes, soos in die Bybel uiteengesit). Ons glo dat God aan Adam en Eva die keuse gebied het van óf die ewige lewe deur gehoorsaamheid aan God, óf die dood deur sonde. Adam en Eva het aan versoeking toegegee en was ongehoorsaam aan God. As gevolg hiervan het sonde in die wêreld ingekom en deur sonde, die dood. Die dood heers nou oor die ganse mensdom, omdat almal gesondig het (Genesis 1:26; 2 Petrus 1:4; Hebreërs 9:27; 1 Korintiërs 15:22; Romeine 3:23; 5:12; 6:23).

Die eerste hoofstuk van die Bybel vertel van die skepping van die mens na die beeld van God (Genesis 1:26-27). Die mens is geskape met waarlik verstommende potensiaal. Die mensdom se bestemming is om kinders van God binne Sy Familie te wees (1 Johannes 3:1-2; 2 Petrus 1:4; 2 Korintiërs 6:18).

God beskik oor perfekte karakter. Hy is inherent goed en kan nie sondig nie. Alhoewel God almagtig is, skep Hy nie “kits” perfekte karakter in die mens nie. Karaktervorming vereis ’n doelbewuste besluit uit vrye keuse, om ’n mens se leefwyse te grond op ’n deeglike kennis van wat moreel reg of verkeerd is. Dit verg ook vasbeslotenheid om te kies wat reg is en te verwerp wat verkeerd is.

Adam en Eva het oorspronklik beperkte, fisiese lewe ontvang, met beperkte lewensverwagting. “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword” (Genesis 2:7). Die Hebreeuse woord nephesh, vertaal as “siel” in Genesis 2:7, word in Genesis Een, vier keer gebruik met verwysing na diere (Genesis 1:20; 21; 24; 31), en in Numeri 6:6 word nephesh as “dooie” vertaal, wat die verganklikheid van die “siel” aandui. Die eerste mens moes later aanhoor, “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19).

Die Bybelse boek van wysheid bekend as Prediker, vermaan: “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie” (Prediker 9:10). Menslike wesens is sterflik en onderworpe aan verganklikheid. Die mens besit nie onsterflikheid in die vorm van ’n “onsterflike siel” nie. In Psalm 30:10 spreek Koning Dawid tot God: “Watter voordeel is daar in my bloed as ek neerdaal in die kuil? Sal die stof U loof? Sal dit U trou verkondig?”

Dit is God se begeerte om aan elke mens die gawe van die ewige lewe in Sy Familie te skenk, want die ewige lewe is nie iets wat iemand kan verdien nie. God sal egter nie hierdie waardevolle geskenk aan enigeen gee wat nie bereid is om hom of haar aan Hom te onderwerp en Sy Wet te gehoorsaam nie (1 Kor. 6:9-10). Die ewige lewe as deel van die Familie van God staan bekend as “die saligheid.” God openbaar in Sy Woord dat saligheid nie outomaties aan elke mens gegee word nie. Hy sal hierdie seëning slegs aan diegene skenk wat bewys het dat hulle bereidwillig was om Hom te gehoorsaam (Openbaring 21:7-8).

God staan onder geen verpligting om aan ons onsterflikheid te gee sodat ons die ewige lewe as Sy kinders op die geestelike dimensie kan smaak nie, maar ons weet dat God liefde is (1 Johannes 4:8). Voortvloeiend uit Sy onbaatsugtigheid en liefde vir ons, het Hy dus ’n plan beraam waardeur die mensdom gered kan word en die saligheid in Sy Koninkryk kan beërwe—die grootste seëning wat ’n liefdevolle Skepper moontlik kán skenk (Lukas 12:32).

Toe God die eerste mense, Adam en Eva, geskape het, het Hy aan hulle toegang verleen tot die boom van die lewe, ’n simbool van die ewige lewe (Genesis 2:9; 3:22). Hy het hulle verbied om van die boom van kennis van goed en kwaad te eet, ’n simbool van die mens se vrye keuse om onafhanklik van God, self te besluit wat reg en verkeerd is. (Hy bepaal wat reg en verkeerd is.) Hy het aan hulle opdrag gegee om nie Sy uitdruklike bevele te verontagsaam en sodoende te sondig nie, want om God se instruksies te verbreek, is sonde (Genesis 2:9, 16-17; 1 Johannes 3:4, Nuwe Vertaling). Sonde lei tot die ewige dood. (Genesis 2:17; Esegiël 18:4, 20; Romeine 6:23). Elke sonde skaad die karakter van die een wat die sonde pleeg. Sonde benadeel nie slegs die een wat die sonde pleeg nie, maar ook die samelewing, en dikwels selfs die nageslag.

Adam en Eva het die vrye keuse wat God hulle toegelaat het, onder die invloed van Satan misbruik en sonde gepleeg deur God se uitdruklike bevele te verontagsaam (Genesis 3:1-6). Die eerste mense het dus begin om teenstrydig met die wil van hulle liefdevolle Skepper te leef, en hulself onder die loon van die sonde—die dood—geplaas, waarteen God hulle vooraf gewaarsku het. Geen mens, met die uitsondering van Jesus Christus, het nog ooit ’n sondelose lewe gelei nie (Prediker 7:20; Hebreërs 4:15). Ten spyte van die sondeval van die mensdom, het dit God se planne met die mens geensins gefnuik nie. In Sy alwetendheid, wysheid en liefde, het God ’n Weg voorsien waardeur menslike wesens met Hom versoen kan word (Johannes 3:16-17). Die mens kan nog, met God se hulp, die goddelike karakter bou wat ’n voorvereiste is om God se geskenk van die ewige lewe as Sy kind te beërwe (1 Korintiërs 15:22; Galasiërs 2:20). Sonder die verlossing wat God voorsien, is die ganse mensdom onderworpe aan die ewige dood, want almal het gesondig (Romeine 3:21-26).

 Terug na Inhoud


 Indien u hierdie onderwerp in fyner besonderhede wil bestudeer, kan u die onderstaande boekies op ons webtuiste lees of aflaai deur slegs op die geskikte skakel te klik.

Die leesstof is in beide html-formaat en pdf-formaat beskikbaar:
“Why does God allow Suffering?”

Die leesstof is in beide html-formaat en pdf-formaat beskikbaar:
  “What is Your Destiny?”

 Die leesstof is in beide html-formaat en pdf-formaat beskikbaar:
"What happens after Death?''

 of u kan die gratis gedrukte boekie bestel.


Sonde en God se Wet

Ons glo dat sonde die oortreding van God se wet is. Die wet is geestelik, volmaak, heilig, regverdig en goed. Die wet omskrywe God se liefde en is gegrond op die twee groot beginsels van liefde teenoor God en liefde teenoor ons naaste. Die wet is onveranderlik en bindend. Die Tien Gebooie is die 10 punte van God se wet van liefde. Ons glo dat die oortreding van enige punt van die wet die loon van die sonde meebring. Ons glo dat hierdie basiese geestelike wet die enigste weg openbaar tot ware lewe en die enigste moontlik weg tot geluk, vrede en vreugde. Alle ongelukkigheid, droefheid, angs, ellende en weemoed het ontstaan uit die oortreding van God se wet (1 Johannes 3:4, 5:3, Nuwe Vertaling; Matteus 5:17-19; 19:17-19; 22:37-40; Jakobus 2:10-11; Romeine 2:5-9; 7:12-14; 13:8-10).

Ons glo dat God die mensdom geskape het om uiteindelik lede van Sy Familie te word. Hulle lotsbestemming is om onsterflikheid te beërwe en vir ewig in ’n eensgesinde verwantskap met God en met mekaar te lewe (Hebreërs 2:6-13). Om die ewigheid met God te kan deel, moet ons ook Sy denke deel, Sy gesindheid, en Sy lewenswyse. Ons moet ook Sy waardes wat Sy Wet uitbeeld, waardeer en handhaaf (Filippense 2:5-13). God se geskrewe openbaring aan die mensdom, die Heilige Skrifte, openbaar hierdie noodsaaklike kennis aan ons deur Sy wette en leringe (2 Timoteus 3:15-17). Hierdie vereistes vorm die grondslag vir die ewige verhouding wat God begeer om met ons te hê. Daarom is dit uiters noodsaaklik dat elkeen wat so ’n verhewe verhouding met God verlang, die voorskrifte van God se Wet moet gehoorsaam soos Sy Woord bepaal.

Sonde, wat die oortreding van die Wet is, is in die Tuin van Eden aan die mensdom bekendgestel. Satan het vir Adam en Eva gelieg omtrent die boom van die kennis van goed en kwaad (Genesis 3:4; Johannes 8:44). Teenstrydig met Satan se bedrieglike voorspelling, het Adam en Eva wel gesterf. Ons deel almal dieselfde toestand van sterflikheid omdat ons hulle afstammelinge is (Hebreërs 9:27). Dit is dus geen toeval dat die alomteenwoordigheid van sonde in alle mense (Romeine 3:23) verbind word met die dood en die terughouding van God se gawe van die ewige lewe nie (Romeine 6:23).

Die deurdringende aard van sonde en die dood blyk duidelik uit die menslike neiging om God se Wet te minag en te verontagsaam (Romeine 8:7). Hierdie afwyking van God se perfekte riglyne af, gaan dikwels gepaard met selfmisleiding (Jeremia 17:9; 10:23). Die direkte (Efesiërs 2:1-3) sowel as die indirekte invloed van Satan is duidelik herkenbaar in diegene wat hy mislei (2 Korintiërs 11:13-15).

Vandat hy in opstand gekom het teen God, het Satan die menslike ras agteraf gewerf vir sy stryd, aangesien alle sonde teen God is, behalwe die gevolge daarvan op mense self (Genesis 39:9; Psalm 51:4).

Oortreding van enige van God se voorskrifte is sonde (1 Johannes 5:17), maar dit is ook sonde om na te laat om te doen wat ’n mens moet doen (Jakobus 4:17) of om ’n mens se gewete te skend (Romeine 14:23). Boonop is sonde ’n verslawende mag waarvan ons verlossing en bevryding nodig het (Romeine 7:23-25). Ons is magteloos om hierdie verlossing self te bewerkstellig (1 Petrus 1:18-19). Enige vorm van sonde veroorsaak vervreemding tussen God en ons (Jesaja 59:1-3; Efesiërs 4:17-19) en uiteindelik die dood. Geen wetsgehoorsaamheid wat ná sulke gedrag volg, kan egter die gevolge omkeer nie, alhoewel gehoorsaamheid vereis word. Slegs die volmaakte offer van Jesus Christus kan ons bevryding en versoening met God teweegbring (Hebreërs 2:14-15).

Deur die vergifnis van sonde deur God se genade (Romeine 3:24), vind ’n Christen vryheid in gehoorsaamheid aan God se Wet (Jakobus 1:21-25). In plaas van verslawing aan sonde deur ongehoorsaamheid, dien ons God dan deur gehoorsaamheid en loop die pad wat God vir ons bedoel het, wat na die ewige lewe in Sy Koninkryk lei deur Sy onverdiende genadegawe (Romeine 6:16-23).

God beskou dit in ’n baie ernstige lig as iemand terugkeer na ’n ou, sondige lewenswyse (2 Petrus 2:20-22). Die enigste sonde wat egter nie vergewe kan word nie, is die doelbewuste verwerping van die offer van Jesus Christus, waardeur vergifnis van sonde moontlik gemaak word (Hebreërs 6:4-6). Christus noem hierdie sonde “lastering teen die Gees” (Matteus 12:31), ’n bewuste verwerping van die mag en gesag van God. Nadat elke menslike wese ’n volle geleentheid vir redding gegun is, sal die oorblywende onbekeerdes vernietig word (Openbaring 20:14-15). Dit sal dan die uiteindelike straf vir sonde vervul—die tweede dood.

Alhoewel elke persoon verantwoordelik is vir sy eie sonde (Esegiël 18:4, 20), is Satan die duiwel die misleier van die mensdom en die een wat uiteindelik verantwoordelik gehou word (Openbaring 12:9; 20:1-3).

 Terug na Inhoud


Die Offer van Jesus Christus 

Ons glo dat God hierdie wêreld van hulpelose sondaars so lief gehad het dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, wat in die menslike vlees gelewe het sonder sonde, alhoewel Hy in alle opsigte versoek is net soos ons. Daardie Seun, Jesus Christus, het as ʼn offer gesterf vir die sondes van die mensdom. Omdat Hy die Skepper van die mensdom is, is Sy lewe van ontsaglik groter waarde as die gesamentlike totaal van alle menslike lewe. Om daardie rede is Sy dood voldoende om die boete te betaal vir die sondes van elke menslike wese. Volgens God se plan het Hy dit deur die vereffening van hierdie skuld moontlik gemaak vir elke persoon en vir die mensdom as geheel, om hul sondes vergewe te kry en verlossing van die doodstraf te verkry (Hebreërs 4:15; 9:15; 10:12; Johannes 1:18; 3:16; Kolossense 1:16-17; 22; 1 Johannes 2:2; 4:10; Efesiërs 1:11; Openbaring 13:8).

Jesus Christus is die kernpunt van die Christendom. Vergifnis van sonde en uiteindelik die gawe van die ewige lewe, is slegs deur Sy offer beskikbaar. Ons is versoen met God deur die dood van sy Seun, maar ons sal deur Sy lewe gered word (Romeine 5:10). Die Skrif gebruik verskeie titels om Jesus Christus te beskrywe, insluitend: Die Woord (Johannes 1:1), ons Verlosser (1 Johannes 4:14), ons Hoëpriester (Hebreërs 9:11), ons Here (Openbaring 22:21), die Seun van God (Openbaring 2:18; 1 Johannes 5:5), ons Paaslam (of Pasgalam) (1 Korintiërs 5:7), die Menseseun (Openbaring 14:14) of die Seun van die mens (Johannes 13:31), en “Die Koning van die konings en die Here van die here” (Openbaring 19:16).

Christus het die uiterste offer betaal vir die mens se sonde. Alhoewel Hy goddelik was, het Jesus ’n mens geword om vir die sondes van die mensdom te sterwe (Filippense 2:5-7). Hy is minder as die engele gemaak, “vanweë die lyde van die dood” (Hebreërs 2:9). Omdat die Seun van die Mens in staat was om versoekings in die menslike vlees te ondervind (Hebreërs 4:15), kon Hy ons barmhartige Hoëpriester word (Hebreërs 2:17) “Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Hebreërs 2:18). Christus as ons Verlosser, het Sy lewe gegee sodat ons mag lewe. As ons Pasga-offerlam het Hy ’n afgryslike dood gesterwe, sodat ons die massiewe omvang van die sonde mag verstaan en die enorme betekenis van Sy offer wat vir elke menslike wese gemaak is.

Jesus het ’n volmaakte lewe gely en het nie die doodstraf verdien nie. Nogtans was Hy van die grondlegging van die wêreld af bestem om vir die mensdom te sterf (Openbaring. 13:8—of beter gestel in die Engelse Bybel: “...the Lamb slain from the foundation of the world.” Lees ook 1 Petrus 1:11, 20). Alhoewel Christus, die sondelose offer vir sonde, by meer as een geleentheid beskuldig is dat Hy God se Wet oortree het, het Hy nooit God se Wet verbreek nie. Ons neem Sy uiters noodsaaklike offer aan waarsonder die saligheid onmoontlik is. Terwyl ons ons lewens op Jesus Christus s’n modelleer, dra ons ons kruis en volg Hom (Lukas 14:27). Dit sluit in ’n gewilligheid om te ly en vervolg te word soos Hy die voorbeeld gestel het (1 Petrus 2:19-23). Ons dank God die Vader dat Hy Sy Seun Jesus Christus opgeoffer het om daardie volmaakte offer vir die ganse mensdom te wees (Johannes 3:16).

Alle sonde word vergewe by opregte bekering en aanname van Christus se offer. Vergifnis van sonde vereis die allerhoogste offer—die dood van Jesus Christus. Sy kruisiging meer as 1900 jaar gelede was nodig in God se plan van verlossing en saligheid.

As ons hierdie basiese lering verstaan, kan ons verseker wees dat ons sondes uitgewis is. Ons kan met volle vertroue voortgaan met ons Christelike lewens, wetende dat die offer van Jesus Christus ons met die Vader kan versoen. As gevolg van hierdie versoening kan ons ’n verhouding met ons Vader opbou wat ons met hoop en vertroue vir ons toekoms sal vul. Ons kan uitsien na die ewige lewe in die Koninkryk van God as ʼn genadegawe van God deur die offer wat Christus gewilliglik vir elkeen van ons gemaak het.

Terug na Inhoud


Drie Dae en Drie Nagte

Ons glo dat die Vader vir Jesus Christus uit die dode opgewek het nadat Sy liggaam drie dae en drie nagte in die graf gelê het, en dus onsterflikheid moontlik gemaak het vir die sterflike mens. Christus het daarna na die hemel opgevaar, waar Hy nou aan die regterhand van God die Vader, as ons Hoëpriester en Middelaar, sit (1 Petrus 1:17-21; 3:22; Matteus 12:40; 1 Korintiërs 15:53; 2 Timoteus 1:10; Johannes 20:17; Hebreërs 8:1; 12:2).

Een van die mees dramatiese, bemoedigende en ontsagwekkende gebeurtenisse van alle tyd was die opstanding van Jesus Christus. God die Vader het Sy enigste Seun, Jesus die Christus, opgewek nadat Hy doodgemaak is en in die graf net buite Jerusalem geplaas is. Die Vader het toegelaat dat Hy doodgemaak word, en Jesus het Homself gewilliglik daaraan onderwerp (Johannes 10:17-18). Sy dood het die boete betaal vir alle sondes van alle menslike wesens wat nog ooit geleef het, op voorwaarde dat hulle hul opreg bekeer van daardie sondes. Sy dood is “vooruit … voor die grondlegging van die wêreld” georden deur die Vader en die Woord as ʼn noodsaaklike deel van die verlossing van die mensdom (1 Petrus 1:20).

So het God dit dan in Sy soewereine regverdigheid, genade en liefde, moontlik gemaak dat alle mense se sondes vergewe kan word (na bekering, en as hulle glo). Die bloed van Christus, die Lam van God, versoen ons ook met God (Matteus 26:28; Openbaring 12:11). Maar die dood van Jesus Christus was nie die einde van die saak nie. Nadat ons deur Sy bloed met God versoen is, word ons deur Sy lewe gered (Romeine 5:10).

Alleen deur Christus se opstanding tot onsterflikheid kon ons ʼn lewende Verlosser hê wat as Hoëpriester vir ons by die Vader voorspraak maak (1 Timoteus 2:5; Hebreërs 4:15-16; Romeine 8:26-27). Slegs as gevolg van Jesus Christus se opstanding uit die dode kan menslike wesens rede hê om in die evangelie van die Koninkryk van God te glo en dat hulle van die ewige dood gered kan word (1 Korintiërs 15:14-19). Sy opstanding gee vir ons ʼn lewende hoop dat ons ook die ewige lewe mag beërwe (1 Petrus 1:3).

Jesus het beide die gebeurtenis en die besonderhede van Sy opstanding voorgehou as die enigste goddelike teken aan Sy geslag dat Hy “meer as Jona” en “meer as Salomo” was, en dat Sy boodskap die hoorders daarvan tot bekering behoort te lei (Matteus 12:39-42). Hy het gesê: “ʼn Slegte en owerspelige geslag soek na ʼn teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was (Jona 1:17), só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.” En Hy was ook drie dae en drie nagte––ʼn tydperk van 72 uur (Johannes 11:9-11; Genesis 1:5)––in die hart van die aarde (die graf). In Markus 8:31 het Hy gesê dat hy die derde dag sou opstaan. (Die Engelse vertaling sê dat hy na drie dae sou opstaan.) In Matteus 27:63 haal die owerpriesters en Fariseërs Jesus se woorde aan waar Hy gesê het: “Oor drie dae staan Ek op.”

Die probleem met die algemeen aanvaarde opvatting aangaande die kruisiging en die opstanding, is dat daar nie drie dae en drie nagte tussen Vrydagmiddag en Sondagoggend is nie.

[Lesers word daarop gewys dat die 1983 Nuwe Afrikaanse Vertaling se verwysings na “Vrydag” en “Sondag” in bv. Matteus 27:62 en 28:1, foutief, misleidend, en sonder insig is.]

Die oorweldigende Bybelse en historiese getuienis toon dat Jesus op Woensdag namiddag gesterf het, haastig in die graf van Josef van Arimathéa neergelê is––kort voor sononder daardie selfde middag, die vooraand van ʼn groot (jaarlikse) Sabbat, die eerste dag van Ongesuurde Brood; (Johannes 19:30-31, 42; Markus 15:42-46). Hy is kort voor sononder op Saterdag deur die Vader opgewek, drie dae en drie nagte nadat Hy in die graf neergelê is––presies soos Hy gesê het.

Hierdie verduideliking is konsekwent met die besonderhede in die Skrif. Dit vereis nie ʼn onlogiese saampersing van drie dae en drie nagte tussen Vrydagaand en Sondagoggend, met vae gissings oor dele van dae en dele van nagte nie. Dit versoen ook die beskrywings van die vroue en die speserye in Markus 16:1 en Lukas 23:56. In die eerste verhaal het die getroue vroue gehoorsaam gerus gedurende heilige tyd en agterna die speserye aangekoop. In die tweede weergawe het die vroue die speserye voorberei en agterna gedurende heilige tyd gerus.

Hierdie weergawes maak sin as mens begryp dat daar twee heilige tydperke gedurende die week onder bespreking was. Jesus is op die Pasgadag gekruisig (Matteus 26:18-20; 1 Korintiërs 5:7), wat die voorbereidingsdag was (Markus 15:42) vir die eerste Heilige Dag op die Joodse kalender, die eerste dag van Ongesuurde Brood. Die vrouens het gewag totdat hierdie dag verby was, en het toe die speserye gekoop en voorberei, en toe weer op God se weeklikse Sabbatdag gerus. Toe het hulle na die graf gegaan om Jesus se liggaam met die speserye te salf.

Hulle het die graf ná die heilige Sabbatte (meervoud) van daardie week (soos Matteus 28:1 uit die oorspronklike Grieks vertaal moes gewees het). Die jaarlikse Sabbat (jaarlikse Heilige Dae word ook “Sabbatte” genoem––bv. Levitikus 16:31; 23:32) was op Donderdag, en die weeklikse Sabbat was Saterdag. Toe hulle vroeg op Sondagoggend by die graf aankom, het hulle dit leeg gevind en die aankondiging van die engel gehoor dat Jesus lewend was en nie daar was nie.

ʼn Aansienlike hoeveelheid historiese en skriftuurlike getuienis dui op 31 nC as die jaar van Christus se kruisiging en opstanding. Onder hierdie aanduidings van ʼn 31 nC kruisiging, is die vervulling van Daniël se profesie van die komende Messias (Daniël 9:24-26; en Esra 7––Artasásta se dekreet), en ʼn sorgvuldige oorweging van drie mylpale: die moontlike datum van Jesus se geboorte, Sy ouderdom toe Hy Sy bediening begin het, en die duur van Sy bediening.

Die berekende kalender van die Jode plaas die Pasga in 31 nC op ʼn Woensdag, en Jesus Christus se dood op daardie dag het Sy rol as die ware Pasgalam van God vervul (1 Korintiërs 5:7). Die volgende dag, Donderdag, was ʼn heilige (jaarlikse) Sabbat. Op daardie Donderdag het die owerpriesters en die Fariseërs na Pilatus toe gegaan vir toestemming om Jesus se graf te verseël en te bewaak (Matteus 27:62-66).

Later, op die Sondag, het die verrese Jesus op die pad na Emmaüs gestap en met twee van Sy dissipels gesels, wat al die voorafgaande gebeure bespreek het, insluitend die besoek van die leiers aan Pilatus op die Donderdag (Lukas 24:13-14, 20). Hulle het genoem dat daardie dag, Sondag, die derde dag was sedert al daardie dinge gebeur het (vers 21).

Ter samevatting, glo ons dat Jesus Christus, die Lam van God, op die Pasga vir ons sondes gesterf het, vir drie dae en drie nagte (72 uur) begrawe was, waarna Hy opgewek is. Na ’n tydperk van verdere kontak met die dissipels, het Hy opgevaar na die hemel om aan die regterhand van die Vader te gaan sit, ver verhewe bo alle ander owerhede en mag en krag en heerskappy (Efesiërs 1:19-23).

 Terug na Inhoud


Bekering

Ons glo dat almal wat hulle opreg uit hul sondes bekeer, hul geheel en al aan God se wil onderwerp in gewillige gehoorsaamheid, en wat Jesus Christus in geloof aanneem as hul persoonlike Saligmaker, se sondes vergewe word deur God se genade. Sulke persone word geregverdig, kwytgeskeld van die loon van die sonde, en ontvang die gawe van die Heilige Gees, wat letterlik in hulle inwoon en die goddelike liefde voorsien wat alleen die Wet kan vervul en geregtigheid voortbring. By die doop ontvang hulle die Heilige Gees, wat hulle dan inlyf in die Liggaam van Christus, wat die ware Kerk van God is. Ons glo in ʼn ware verandering in lewenswandel en gesindheid. Slegs diegene wat die Heilige Gees se inwonende teenwoordigheid het en deur die Heilige Gees gelei word, behoort aan Christus (Handelinge 2:38; 3:19; 5:29-32; 2 Korintiërs 7:10; Johannes 3:16; Efesiërs 1:7; 2:7-9; Romeine 3:21-26; 5:5; 6:6; 8:4, 9-10, 14, 13:1; Jeremia 33:8; Johannes 14:16-17; 1 Korintiërs 12:12-13, Filippense 2:3-5).

“Bekering uit dooie werke” word in Hebreërs 6:1 genoem as ʼn deel van die fondament wat uiteindelik “na die volmaaktheid voortgaan” en tot die ewige lewe lei. Jesus het die belangrikheid van bekering beklemtoon toe Hy twee keer gesê het, “as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom” (Lukas 13:3, 5). God vereis dat almal tot bekering moet kom (Handelinge 17:30; 2 Petrus 3:9).

In die eerste opgetekende prediking in die Nuwe Testamentiese Kerk, het Petrus die mense aangesê om hulle te bekeer (Handelinge 2:38). Bekering behels veel maar as om jammer te wees of om berou te hê oor ʼn mens se optrede van die verlede (2 Korintiërs 7:8-11). Ware bekering behels ʼn herkenning van ons natuur en ons teenstrydigheid teen God (Romeine 8:7). Dit vereis ʼn verandering, ʼn algehele en totale ommekeer in ʼn mens se lewe, ʼn koersverandering uit die weë van die wêreld na die weë van God (Jesaja 55:7-8; Handelinge 26:20). Dit behels volle oorgawe en gewillige gehoorsaamheid gegrond op die kennis van hoe God wil hê ons moet lewe.

Bekering begin wanneer ons uitroep tot God vir vergifnis van ons sondes en ons Jesus Christus aanneem as ons persoonlike Verlosser en Saligmaker. Dit is ʼn besluit wat nie slegs op emosie gegrond moet wees nie, alhoewel emosie beslis ʼn belangrike deel daarvan mag uitmaak (Handelinge 2:37), maar ʼn besluit om God opreg te gehoorsaam deur geloof in Jesus Christus. Christus se geregtigheid word ons geregtigheid deur geloof in Hom (Filippense 3:8-9; Romeine 8:1-4). Bekering is nie eenvoudig onderwerping aan ʼn godsdiensstelsel of ʼn stel reëls nie. Vertroue in God en Sy weë lei ʼn persoon om volgens Sy wil te begin optree en om werke van geregtigheid te toon (Jakobus 2:17-26). Ware goddelike bekering is nie iets wat ʼn persoon self kan “opwerk” nie. Dit is ʼn gawe van God (2 Timoteus 2:25). Dit is een van die baie goeie dinge wat ons hemelse Vader ons gee (Jakobus 1:17). Hy lei ons tot bekering (Romeine 2:4).

Berou is ʼn belangrike deel van die bekeringsproses. Soos Petrus verder in daardie eerste preek gesê het: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38). Ons moet ons bekeer van sonde, wat die oortreding van God se Wet is (1 Johannes 3:4––Die Ou Vertaling noem dit “wetteloosheid” maar die Nuwe Afrikaanse Vertaling stel dit nog duideliker as: “oortreding van die Wet van God”). Bekering word deur die doop gevolg.

Nadat ʼn persoon tot bekering gekom het en gedoop is, word God se Gees aan hom geskenk deur die handeoplegging (2 Timoteus 1:6). Dan lei die Heilige Gees ons om God se lewensweg te volg (Romeine 8:14). Deur middel hiervan het ons die inwonende liefde van God wat ons motiveer om God se wette te onderhou (1 Johannes 5:3). Ware Christene het die Heilige Gees (Romeine 8:9) en strewe om te lewe soos Christus gelewe het (1 Johannes 2:6).

Bekering behels beide berou en vreugde. Bekering lei tot ʼn vreugdevolle en ewige verhouding met ons liefdevolle God, ons Skepper en die Gewer van lewe. Bekering fokus ons visie op die liefde en genade van God en die vergifnis van sonde wat moontlik gemaak word deur die offer van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Bekering is nodig om “die oue mens” af te lê en ʼn deel van die familie van God te word as “die nuwe mens … in ware geregtigheid en heiligheid” (Efesiërs 4:20-24). Jesus het gesê, “bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15). Die vooruitsig om deel te wees van die Koninkryk van God is beslis rede om verheug te wees!

Goddelike bekering word deur die doop gevolg, waarna die gawe van die Heilige Gees ontvang word (Handelinge 2:37-38). Sodoende word die sondes van die verlede uitgewis (Romeine 3:25). Ná die doop staan ʼn mens op in ʼn nuwe lewe gelei deur God se Gees, en toename in kennis, oplewering van die vrugte van die Gees, en heiligmaking in geregtigheid (2 Petrus 3:18; Matteus 13:23; Galasiërs 5:22; 2 Korintiërs 7:1).

Bekering is egter ʼn voortdurende proses. Dit is nie ʼn eenmalige gebeurtenis in die lewe van die gelowige nie. ʼn Bekeerde persoon moet die stryd teen sonde in sy of haar lewe voortsit (1 Johannes 1:8-10; 2:1; Efesiërs 6:12). Ons sondige menslike natuur bly by ons vir die res van ons lewe en voer ʼn stryd teen ons verstand, wat tot sonde lei (Romeine 7:17, 20-21). Ons begeer om God te behaag. Die liefde van God in ons (Romeine 5:5) bely die volmaakte weg van God en wil dit navolg, maar word deur die swakheid van die vlees teengestaan (Romeine 7:12-25).

God veroordeel nie die gelowige (Romeine 8:1), wat in ʼn bekeerde gesindheid bly in sy stryd om die sonde te oorwin nie (Openbaring 2:7, 11, 17, 26; 3:5, 12, 21). ʼn Christen volhard deur voortdurende bekering en geloof in Jesus Christus om sy sondes te bedek in hierdie lewenslange proses van oorwinning.

 Terug na Inhoud


Die Doop

Ons glo in die ordinansie van die doop deur onderdompeling ná bekering. Deur handeoplegging, wat met gebed gepaardgaan, ontvang die gelowige die Heilige Gees en word deel van die geestelike Liggaam van Jesus Christus (Matteus 3:13, 16; Johannes 3:23; Handelinge 2:38; 8:14-17; 19:5-6; 1 Korintiërs 12:13).

Johannes die Doper het ʼn doop van bekering bekendgestel wat gekoppel was aan die konsep van vergifnis van sondes (Matteus 3:1-6; Markus 1:4-5). Jesus Self is deur Johannes gedoop (Matteus 3:13-17), nie omdat Hy bekering of vergifnis nodig gehad het nie, maar om deur die eeue as voorbeeld vir Sy dissipels te dien.

Die woord “doop” (Engels: “baptise”) is ʼn vertaling van die Griekse woord baptizo, wat beteken “om te onderdompel.” By definisie is die enigste Bybelse vorm van doop dus ʼn volkome onderdompeling in water. Johannes die Doper het ʼn spesifieke plek in die Jordaanrivier gekies vir sy doop, “omdat daar baie water was” (Johannes 3:23).

Die instelling van die doop is uiters belangrik vir die Christen. Deur middel van hierdie een proses word die gelowige aan Christus se dood, begrafnis en opstanding herinner, en verbind dit met sy of haar eie simboliese “dood” en “opstanding” vanuit die “watergraf” om in ʼn “nuwe lewe” te wandel (Romeine 6:3-6; Kolossense 2:12-13). Die belofte van die gelowige se toekomstige opstanding in die Koninkryk van God is ook onafskeidbaar verbind met die simboliek van die doop. Die pasgedoopte persoon kom uit die water uit, sy sondes vergewe, om ʼn nuwe lewe in Christus te lewe, vry van die doodstraf wat sonde teweegbring. Die doopwater het daardie sondes dan simbolies afgewas. In hierdie verband, is die doop ʼn uiterlike erkenning van die gelowige se innerlike voorneme om sy wil en lewe aan God en Sy lewensweg te onderwerp (Efesiërs 4:20-24).

Die doop, soos vereis deur God, moet deur geloof en bekering voorafgegaan word (Handelinge 2:37-38; Markus 16:16). Die simboliek van die doop dui op die dopeling se gewilligheid om die ou sondige lewe te “begrawe” (Romein 6:11). Ons erkenning van skuld en die nodigheid vir Jesus Christus om ons van die gevolge van sonde te red, is van die allergrootste belang. Hierdie bekering word gekenmerk deur ʼn verandering van gesindheid en optrede en word gegrond op persoonlike geloof in, en ʼn volkome nuwe verhouding met Jesus Christus en God die Vader (Lukas 14:25-33; Kolossense 2:12). Slegs iemand wat volwasse genoeg is om die vereiste lewenslange nuwe verhouding ten volle te begryp en te waardeer, behoort gedoop te word. Die Bybel dui geensins aan dat die doop geskik is vir kinders nie.

Die doopseremonie word afgesluit deur gebed en handeoplegging. Hierdie is deel van die proses waardeur ons die gawe van God se Gees ontvang (Handelinge 8:14-18). Christus lewe deur die werking van die Heilige Gees in die Christen (Johannes 14:16-17, 23; Galasiërs 2:20). Deur hierdie proses word die gelowige in die geestelike Liggaam van Christus geplaas (1 Korintiërs 12:12-13), wat blydskap in die hemel meebring (Lukas 15:7).

Die opdrag wat Jesus Christus aan Sy dissipels gegee het, sluit die magtiging in om gelowiges te doop (Matteus 28:18-20). Diegene wat tot bekering kom deur die roeping van God (Johannes 6:44) en verlang om gedoop te word ter vergifnis van sondes, volg dus die voorbeeld en opdrag van Jesus Christus.

 Terug na Inhoud


Die Sabbatdag

Ons glo dat die sewende dag van die week die Sabbat van die Here ons God is. Ons word beveel om die leringe en voorbeeld van Jesus, die apostels en die Nuwe Testamentiese Kerk na te volg deur op hierdie dag te rus van ons arbeid, en God te aanbid (Genesis 2:2-3; Eksodus 20:8-11; 31:13-17; Levitikus 23:3; Jesaja 58:13; Hebreërs 4:4-10; Markus 1:21; 2:27-28; 6:2; Handelinge 13:42-44; 17:2; 18:4; Lukas 4:31).

Die Sabbatdag is reeds by die skepping gemaak en afgesonder vir die mens. God het die sewende dag geseën en geheilig en daarop gerus van al Sy werk. Die Sabbat is die dag ná die skepping van die eerste mens gemaak––ʼn geordende tyd vir die mens om op ʼn intieme persoonlike verhouding met sy Skepper te fokus (Genesis 2:2-3).

Die Sabbat is vir die mens gemaak en bevoordeel ons regstreeks. Jesus Christus is “Here van die Sabbat” en daarom is die Skepper Self vir ewig met hierdie heilige tyd verbind (Markus 2:27-28). Dit is ʼn baie spesiale tyd vir die mens om sy verhouding met God te ontwikkel en sy toewyding aan God te verdiep. Wanneer ons ophou om ons eie weë te volg, vind ons verlustiging in dit wat God behaag (Jesaja 58:13-14).

God het in Eksodus 20:8-10 vir ons aanwysings gegee aangaande die onderhouding van die Sabbat: “Gedenk die Sabbatdag, dat jy dit heilig...” Mens “gedenk” die Sabbat en “heilig” dit deur op die sewende dag te rus en te aanbid. Wanneer Christene hierdie gebod nakom, volg hulle die voorbeeld van hul Skepper en word hulle herinner aan Hom wat hulle geskape het.

God beklemtoon weereens in Deuteronomium 5:12-15 dat dit nodig is om die Sabbat te onderhou. Hy verduidelik dat die onderhouding van die Sabbat ons nie alleen aan die Skepper moet herinner nie, maar ook dat Hy die Een is wat ons uit slawerny bevry (lees ook Lukas 4:18-19). Ou Israel het onthou dat hulle uit fisiese slawerny in Egipte verlos is. Christene onthou dat hulle uit geestelike slawerny bevry en deur Jesus Christus verlos is (Romeine 6:16-18).

In Eksodus 31:13-17 verklaar God duidelik dat die Sabbat vir ewig ʼn teken is, en ʼn ewige verbond tussen Hom en Sy kinders is. Hierdie is bo en behalwe die opdrag wat met die skepping en in die Tien Gebooie gegee is. Dit moet heilig gehou word as ʼn herinnering aan diegene wat deur God geroep is dat Hy die Een is wat hulle uitsonder en dat hulle kinders van God is.

Wanneer Jesus na die aarde toe terugkeer en die Koninkryk van God kom oprig, sal die Sabbat gereeld onderhou word om God te aanbid en te dien (Jesaja 66:23).

Die waarheid dat daar dus ʼn Sabbatsrus vir die volk van God oorbly (Hebreërs 4:9) is bevestig deur die lewende voorbeeld van Jesus Christus (Lukas 4:16, 23) en Sy volgelinge ná Sy dood en opstanding.

Paulus het die heidene (nie-Israeliete) op die Sabbat geleer (Handelinge 13:42-44) en so beide die Wet van God en die voorbeeld van Christus nagevolg. Waar Paulus ook al heen gegaan het, het hy volgens sy gewoonte op die Sabbat geleer, en kerke gestig wat die Sabbat onderhou het (Handelinge 17:2; 18:4). Geen voorbeeld hoegenaamd kan in die geskrifte van die apostels gevind word, of in die gebruike van die Nuwe Testamentiese Kerk, wat enige sweempie van verandering in die voorbeeld en lering wat hulle van Christus ontvang het, aandui nie.

Om saam te vat: Die Sabbat verwys ons terug na die verlede: na die skepping, en herinner die mens aan sy Skepper; na die hede: diegene wat die sewende dag heilig hou, word daardeur herinner dat dit God is wat hulle van sonde verlos het; na die toekoms: na die wederkoms van Jesus Christus en die vestiging van die Koninkryk van God, wanneer daar rus sal wees vir die ganse mensdom (Hebreërs 4:4-10).

Terug na Inhoud


Die Pasga

Ons glo in die onderhouding van die Nuwe Testamentiese Pasga op die aand van die 14de van Abib, synde die herdenking van die dood van ons Verlosser op daardie dag (Levitikus 23:5; Lukas 22:13-14).

Toe Jesus die Nuwe Testamentiese Pasga met die nuwe simbole van die brood en wyn ingestel het, het Hy van die wyn gesê, “dit is My bloed, die bloed van die nuwe testament (of verbond).” Daardeur het Hy duidelik aangedui dat die Pasga wat ons moet onderhou ʼn Nuwe-testamentiese of Nuwe-verbondse seremonie is (“doen dit tot My gedagtenis”––Lukas 22:19). Boonop het Jesus persoonlik hierdie gedenkseremonie ook as “hierdie Pasga” geïdentifiseer (vers 15). Hy het dit op die voorgeskrewe datum onderhou––die 14de van Abib volgens die Hebreeuse kalender––soos in Levitikus 23 vasgestel is vir jaarlikse onderhouding.

Jesus het self die tyd van die Nuwe Testamentiese Pasga op die aand voor Sy dood vasgestel. Paulus het bevestig dat ons dit “in die nag waarin Hy verraai is,” moet onderhou (1 Korintiërs 11:23-26; Lukas 22:14-20; Johannes 13:1-17)––aan die begin van die 14de van Abib. Jesus het spesifiek die naam “Pasga” vir hierdie spesiale gedenkdiens gebruik (Matteus 26:18; Lukas 22:8, 15). Hy het Sy dissipels beveel hoe, wanneer en waar hulle moes voorberei vir hierdie uitbeelding van die dood van die Messias (Lukas 22:7-13).

Die Nuwe Testamentiese Pasga gaan nie alleenlik oor die dood van die “Lam van God” nie. Dit gaan ook oor Sy lyding (Lukas 22:15). Ons moet die offer wat Hy gemaak het as geheel herdenk––beide Sy lyding en Sy dood. Sy lyding, dood en begrafnis het alles op die 14de van Abib plaasgevind. Die simbole van die brood en die wyn het die offerlammers van die Ou Testament vervang (Eksodus 12), wat ʼn tipe, of uitbeelding, van Jesus Christus was.

Jesus, die Lam van God, is “ons Paaslam” (of Pasgalam) (1 Korintiërs 5:7). Die brood en wyn verteenwoordig Sy volkome offer––Sy lyding en Sy dood.

Jesus se dood het die namiddag van die 14de van Abib plaasgevind, maar Sy lyding het die aand voor Sy dood al begin, terwyl Hy nog by Sy dissipels was. “En Hy neem Petrus en die twee seuns van Sebedéus saam en begin bedroef en benoud word. Toe sê Hy vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My” (Matteus 26:37-38).

Soos die Skrif voorskryf, herdenk ons Christus se dood as ons Pasga aan die begin van die 14de––die nag toe Jesus verraai is, en onderhou die Fees van Ongesuurde Brood van die 15de tot die einde van die 21ste. Die Bybelse teks in hierdie verband is duidelik en dus is dit maklik om die volgorde van gebeure te onderskei; naamlik dat die Dae van Ongesuurde Brood op die Pasga volg.

Die brood en wyn gedenk die lyding en dood van Christus, ons Pasga. Jesus Christus en die dissipels het hul hele lewe lank die Pasga onderhou omdat hulle Jode was. Maar nou was daar nuwe simbole. Christus het vir Sy dissipels die dieper betekenis van die Pasga geleer deur die nuwe simbole en deur Sy uiteindelike lyding en dood op die 14de van die eerste maand van die Hebreeuse kalender.

Nadat Hy vir Sy dissipels gesê het om die wyn te drink, het Jesus gesê, “Want dit is My bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes” (Matteus 26:28). Christus se instelling van die Pasgasimbole is in ooreenstemming met Sy rol as “die Middelaar van die nuwe testament” (Hebreërs 12:24).

Deur Sy offer, het Hy eenmaal vir die ganse mensdom se sondes gely (1 Petrus 3:18). Wanneer ons deelname het aan die brood en wyn, herken ons dat Sy liggaam en bloed gegee is om ons sondes te bedek. Deur geloof in die offer van Jesus Christus word ons met die Vader versoen. Versoening verleen ons toegang tot die Vader, en ons kan “dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:16). Dit is as gevolg van Sy offer dat ons geestelike fisiese, verstandelike en emosionele genesing kan ontvang (Jesaja 53:4-5; Jakobus 5:14).

Wanneer ons die brood gebruik, simboliseer dit aan ons dat Christus in ons leef (Johannes 6:53-54; Galasiërs 2:20). Verder toon ons ons eenheid met Christus en met elke lid van die liggaam van Christus––die Kerk (1 Korintiërs 10:16), asook ons gewilligheid om volgens die Woord van God te lewe (Matteus 4:4).

Jesus se bevel aan ons is om die Pasgadiens tot Sy gedagtenis te onderhou (Lukas 22:19-20). In 1 Korintiërs 11:20-26 sê Paulus onomwonde dat die Kerk moet saamkom en “hierdie brood eet en hierdie beker drink.” Die doel van hierdie seremonie is om “die dood van die Here (te) verkondig totdat Hy kom” en dit verteenwoordig die enigste manier hoe die mensdom met God die Vader versoen kan word. Paulus leer ons verder dat Jesus se dood slegs die versoening moontlik maak—maar dat ons deur Sy lewe gered word (Romeine 5:10).

Die voetewas-seremonie in die Pasgadiens is deur Jesus ingestel. Nadat Hy die persoonlike voorbeeld van ʼn dienskneg aan ons gestel het deur Sy dissipels se voete te was, het Hy die volgende duidelike instruksie aan ons gegee, nl.: “As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen” (Johannes 13:17).

Al drie elemente—die voetewas, die brood en die wyn—is deel van die jaarlikse seremonie wat deur die United Kerk van God onderhou word. Die seremonie word slegs eenmaal per jaar onderhou, kort na sononder op die aand aan die begin van die 14de dag van die eerste maand van die Hebreeuse kalender, soos deur die Woord van God vasgestel is.

 Terug na Inhoud


Die Feeste van God

Ons glo in die onderhouding van die sewe jaarlikse Heilige Dae wat God aan Israel van ouds gegee het, wat ook deur Jesus Christus onderhou is, asook die apostels en die Nuwe Testamentiese Kerk; en wat ook gedurende Christus se duisendjarige vrederyk deur die ganse mensdom onderhou sal word. Hierdie Heilige Dae openbaar God se verlossingsplan (Kolossense 2:16-17; 1 Petrus 1:19-20; 1 Korintiërs 5:8; 15:22-26; 16:8; Jakobus 1:18; Eksodus 23:14-17; Levitikus 23; Lukas 2:41-42; 22:14-15; Johannes 7:2, 8, 10, 14; Handelinge 2:1; 18:21; 20:16; Sagaria 14:16-21).

Toe God die volk Israel uit slawerny in Egipte bevry het, het Hy beveel dat die nasie gedurende die verskillende oes-seisoene van die jaar aan spesiale aanbiddingsseremonies moes deelneem (Eksodus 23:14-16; Deuteronomium 16:1-17). God beskou hierdie Heilige Dae as Sy feeste: “Die feestye van die Here wat julle moet uitroep as heilige samekomste—dit is My feestye” (Levitikus 23:2-4). Die evangelieboodskap en God se verlossingsplan word deur die feesdae uitgebeeld. Die fisiese oeste is uitbeeldings van die geestelike oeste van mense, bewerkstellig deur God se verlossingsplan deur Jesus Christus (Matteus 9:37-38; Johannes 4:35; 15:1-8; Kolossense 2:16-17).

Die sewe jaarlikse Heilige Dae is jaarlikse Sabbatte. Hulle is deur God beveel as gewyde byeenkomste of samekomste van Sy volk. Hierdie dae is heilig omdat hulle deur God afgesonder is om heilig gehou te word. Hy beveel Sy volk om op hierdie Sabbatte byeen te kom vir aanbidding en om van Hom en Sy plan te leer. Sy bevel strek verder as slegs aanbidding; dit sluit ook die vreugdevolle samesyn van medegelowiges in (Levitikus 23:1-4; Deuteronomium 14:23-26; Nehemia 8:1-12).

Die Nuwe Testament getuig van die getroue onderhouding van hierdie dae deur Jesus Christus en die Kerk. Jesus het hierdie feesgetye onderhou en ons, as Sy volgelinge, word beveel om te wandel soos Hy gewandel het (Johannes 7:8-14; 1 Johannes 2:6). Die Nuwe Testamentiese Kerk het op ʼn jaarlikse feesdag begin—“die dag van die Pinksterfees” (Handelinge 2:1-4). Die apostels en dissipels van die vroeë Kerk het aangehou met die onderhouding van hierdie feeste lank na Jesus se dood en opstanding (Handelinge 18:21; 20:16; 27:9; 1 Korintiërs 5:8). Paulus handhaaf hulle onderhouding en hou hulle voor as “skaduwees” van die groot gebeurtenisse in God se verlossingsplan wat nog vervul moet word (Kolossense 2:16-17). Hy het ook vir die gemeente in Korinte gesê, “Laat ons dan feesvier” (1 Korintiërs 5:8). Hy het hier in besonder na die Fees van Ongesuurde Brood verwys.

Deur die onderhouding van hierdie feeste, fokus God Sy mense op die werk van Jesus die Messias en word Sy volgelinge deur die jaar daaraan herinner. Die verkondiging van die evangelie van die Koninkryk en God en Sy roeping tot ʼn nuwe lewensweg (Johannes 6:44) versinnebeeld die uiteindelike metamorfose van die Kerk as die familie van God. Deur Christus as ons fokus, begin ons die spesiale betekenis van die jaarlikse feeste verstaan.

In die verloop van die sewe jaarlikse feestye is daar sewe Heilige Dae, wat jaarlikse Sabbatte is. Hierdie Heilige Dae is die eerste en laaste dae van Ongesuurde Brood, die Pinksterfeesdag, die Fees van Trompette (of Basuine), die Versoendag, die eerste dag van die Huttefees, en die Laaste Groot Feesdag. Alhoewel die Pasga ʼn feesdag is, is dit nie ʼn jaarlikse Sabbat nie.

Die verlossingsplan wat in die Heilige Skrif openbaar word, word deur die betekenis van hierdie sewe jaarlikse feeste uitgebeeld. 

Die Pasga leer ons dat Jesus Christus sondeloos was en, as die ware Lam van God, Sy lewe gegee het sodat die sonde van die mensdom vergewe kon word en die doodstraf verwyder kan word (1 Korintiërs 5:7; 1 Petrus 1:18-20; Romeine 3:25). Die Pasga is die eerste fees van die jaar, alhoewel dit nie as ʼn Heilige Dag onderhou word nie.

Die Fees van Ongesuurde Brood leer ons dat ons geroepe is om wetteloosheid te verwerp en ons van sonde te bekeer. Ons moet leef van elke woord van God en volgens die leringe van Jesus Christus (Matteus 4:4). Gedurende hierdie fees word sonde deur suurdeeg en ander rysmiddels gesimboliseer, wat dan vir die sewe dae van die fees uit ons tuistes verwyder word (1 Korintiërs 5:7-8; Eksodus 12:19). Die eet van ongesuurde brood beeld vir ons ʼn lewe uit van opregtheid en die navolging van die waarheid, vry van sonde.

Die Fees van Weke, ook genoem Fees van die Oes, Eerstelinge, of Pinksterfees, leer ons dat Jesus Christus gekom het om Sy Kerk op te rig. Hierdie fees beeld die koms van die Heilige Gees uit, en die totstandkoming van die Nuwe-testamentiese Kerk. Die eerstelinge van die Gees is diegene wat die ewige lewe met die wederkoms van Christus sal beërwe. Hulle is deur die Heilige Gees bemagtig, wat in elkeen ʼn nuwe hart en natuur skep om volgens die gebooie van God te lewe (Eksodus 23:16; Handelinge 2:1-4, 37-39; 5:32; Jakobus 1:18).

Die Fees van Trompette leer ons dat Jesus Christus sigbaar na die aarde gaan terugkeer aan die einde van dae. Dan sal Hy die afgestorwe heiliges uit die dood opwek en die heiliges wat nog leef, verander na onsterflike geesteswesens (Matteus 24:31; 1 Korintiërs 15:52-53; 1 Tessalonisense 4:13-17). Hierdie fees herdenk die trompetgeskal wat Christus se wederkoms sal voorafgaan. Sewe engele met sewe trompette word in Openbaring 8-10 beskryf. Christus sal terugkom met die sewende trompetgeskal (Openbaring 11:15).

Die Versoendag leer ons dat Jesus Christus Sy lewe gegee het ter versoening vir die sondes van die mensdom. Dit dui ook op die tyd wanneer Satan vir 1000 jaar gebind sal wees (Levitikus 16:29-30, 20-22; Openbaring 20:1-3). Hierdie Heilige Dag beeld ons Hoëpriester, Jesus Christus, uit wat vir ons sondes geoffer is sodat ons met God versoen kan word en toegang tot die heiligdom kan verkry (Hebreërs 9:8-14; 10:19-20). Deur op hierdie dag te vas, kom ons nader aan God en beeld die versoening tussen God en die mensdom uit. Christus word in hierdie proses as ons Hoëpriester uitgebeeld (Hebreërs 4:14-15; 5:4-5, 10) en as ons ewige offer vir sonde (Hebreërs 9:26-28).

Die Huttefees leer ons dat wanneer Jesus Christus terugkom, ʼn nuwe samelewing gevestig sal word met Christus as Koning van die konings en Here van die here en, bygestaan deur die verrese heiliges, sal Hy Sy regering op die aarde oprig synde die duisendjarige vrederyk (Openbaring 19:11-16; 20:4; Levitikus 23:39-43; Matteus 17:1-4; Hebreërs 11:8-9). Christus se wêreldregering en Sy Wette sal vanaf Jerusalem versprei na die uithoeke van die wêreld om ʼn tydperk van weergalose vrede en ongehoorde voorspoed in te lui (Jesaja 2:2-4; Daniël 2:35, 44;  7:13-14).

Die Laaste Groot Dag, of agtste dag, leer ons dat Jesus Christus Sy oes van mense gaan voltooi deur alle afgestorwe mense op te wek wat in die verlede nooit ʼn geleentheid gehad het om gered te word nie, en die saligheid ook vir hulle aan te bied (Esegiël 37:1-14; Romeine 11:25-27; Lukas 11:31-32; Openbaring 20:11-13). Hierdie opstanding en periode sluit die biljoene in wat deur die eeue nooit van Christus gehoor het nie (Handelinge 4:12), kindertjies wat baie klein dood is, ens.

Die jaarlikse siklus van Feesgetye en Heilige Dae herinner Christus se volgelinge daaraan dat Hy besig is om Sy plan uit te voer om verlossing van sonde en die dood, en die gawe van die ewige lewe in die familie van God aan die ganse mensdom te bied—insluitend die verlede, die hede, en die toekoms.

 Terug na Inhoud


God se Voedselwette

Ons glo dat die vleissoorte wat in Levitikus 11 en Deuteronomium 14 deur God as “onrein” uitgesonder word, nie geëet mag word nie.

Die Skrif openbaar dat God die groot verskeidenheid van dierelewe wat ons planeet bewoon, geskape het en dat sommige diere spesifiek vir die mensdom as voedsel geskape is (1 Timoteus 4:3). Alhoewel ʼn Christen nie verplig is om vleis te eet nie, word die verskeie vorme van vegetarisme wat as ʼn godsdiensvereiste beoefen word, as ʼn geestelike swakheid beskou (Romeine 14:2).

Dit is nie duidelik presies wanneer God die eerste keer die verskil tussen “rein” en “onrein” diere openbaar het nie. Die feit dat daar nie ʼn spesifieke voorskrif oor hierdie kwessie te vinde is nie, is geen bewys dat daar nie wél so ʼn bevel gegee is nie. Alhoewel daar min duidelike bevele in die vroeë bladsye van die Bybel is, openbaar die opgetekende voorbeelde dat die norme van reg en verkeerd duidelik bekend was. Byvoorbeeld, daar is geen opgetekende gebod teen moord voor Kain sy broer, Abel, vermoor het nie, maar niemand kan daaruit aflei dat moord vóór daardie tyd aanvaarbaar was nie. Die boek Genesis kan beskryf word as die boek van oorsprong. Die boek is deur Moses geskryf as ʼn historiese optekening van wat plaasgevind het, nie ʼn boek van wette nie. Lesers moet dus nie aanvaar dat die wet nie vanaf die begin af bestaan het nie. Genesis 4:7 verwys, byvoorbeeld, na “sonde” wat die oortreding van God se Wet is.

Die eerste optekening in die Skrif aangaande “rein” en “onrein” diere vind ons in Genesis 7:2, waar Noag beveel is om sewe (of sewe pare) rein diere en slegs een paar onrein diere in die ark te neem. Toe God vir Noag gesê het om ʼn reuse ark te bou, het Hy uitdruklike aanwysings gegee aangaande die grootte, samestelling en ontwerp daarvan, maar tog het God dit nie nodig geag om vir Noag instruksies te gee oor watter diere rein, en watter onrein was nie. Noag het alreeds oor daardie inligting beskik.

Toe die groot vloed verby was, het God vir Noag gesê, “Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek dit alles aan julle” (Genesis 9:3). Die vorige vers verduidelik dat, alhoewel daar min mense oorgebly het, en daar groot en gevaarlike diere bewaar is, was dit nie nodig dat Noag en sy familie hierdie diere moes vrees nie.

Vers 3 dui aan dat die diere vir die mens se voordeel daar was. Hulle is, net soos die groen plante, in die mens se hand oorgegee. Sommige groen plante is geskik vir voedsel, sommige is geskik vir boumateriale, sommige is daar vir versiering en genot, en ander is weer giftig en kan siekte of die dood meebring as dit geëet word. In dieselfde trant, is sommige diere geskik vir gebruik as voedsel, terwyl ander vesel voortbring vir klerasie, en die krag van ander aangewend kan word om landerye te bewerk en teen gevare te beskerm.

Waar diere in die Skrif genoem word as ʼn voedselbron of in verband met offers vóór die Berg Sinai, verwys dit sonder uitsondering na rein diere (Genesis 15:9—vers, bokooi, ram, tortelduif, jong duif; Genesis 22:13—ram; Eksodus 12:5—skaap of bok). Die wette van rein en onrein vleis het duidelik die Ou Verbond voorafgegaan, ongeag van watter rol hulle in daardie verbond gespeel het.

Toe die Levitiese stelsel ingestel is, was dit nodig om ʼn aantal reëls op skrif te stel wat alreeds geruime tyd in werking was. Twee Skrifgedeeltes, Levitikus 11:1-47 en Deuteronomium 14:3-21, verduidelik watter diere geskik is vir voedsel, en watter nie, alhoewel hierdie Skrifgedeeltes gebruike opteken wat lank voor die Levitiese stelsel alreeds bestaan het. Die term rein word gebruik vir diere waarvan die vleis geskik is vir voedsel, terwyl die term onrein gebruik word vir voedsel wat nie geskik is vir voedsel nie.

Die Skrif openbaar nie presies waarom God sekere diere se vlees onderskei het as geskik vir voedsel terwyl ander vleis nie geskik is nie. Wat die rede ook al mag wees, God weet waarom en hoe Hy elke dier geskape het, en Hy sonder sekere vleissoorte uit as geskik om geëet te word, en ander as nie geskik nie.

Verskeie Skrifgedeeltes in die Nuwe Testament dui aan dat die wette van rein en onrein vleis deur Jesus Christus en Sy volgelinge onderhou is. Al was die godsdienstige leiers ook hóé gretig om Jesus te beskuldig van oortredings van hulle vertolkings van godsdienstige wette, is daar geen getuienis dat hulle Hom ooit aangespreek het oor Sy leringe of gebruike in hierdie opsig nie. As Hy enigsins ʼn voorstander was van die eet van onrein vleis, sou dit ʼn gulde geleentheid gebied het om Sy aansien by die menigtes te beswadder, aangesien hulle so iets uiters afstootlik sou gevind het. Indien Jesus se woorde in Markus 7 in daardie dae so dikwels verkeerd aangehaal en verdraai was soos dit vandag word, sou die godsdiensleiers woedend gewees het. Die misbruik van Markus 7 as gronde om onrein vleis te eet, is gebaseer op ʼn verskillende gebruik van grammatika wat slegs in ʼn paar van die Griekse manuskripte gevind word.

Handelinge 10 beeld die Nuwe Testamentiese Kerk se begrip van rein en onreine vleis op ʼn kragtige wyse uit, alhoewel dit nie die hoofdoel van die visioen was nie. Petrus het ʼn visioen van God ontvang wat hom beveel het om die evangelieboodskap aan die nasies en volke buite die Joodse gemeenskap uit te dra. Gedurende hierdie visioen het Petrus drie keer geweier om van die onrein diere te eet wat vir hom gewys is en hy was steeds deur die veld geslaan oor die betekenis van die visioen totdat God openbaar het dat dit oor mense gegaan het en nie oor rein en onrein diere nie. Dit is aan Petrus geopenbaar dat hy “geen mens onheilig of onrein mag noem nie” (Handelinge 10:28-29).

Hierdie hoofstuk eindig met die uitstorting van die Heilige Gees op Cornelius “met sy hele huis” as bewys dat die evangelie nou aan alle nasies verkondig sou word (verse 2, 44-48). Alhoewel hierdie Skrifdeel al misbruik is as toestemming om onrein diere te eet, toon dit duidelik op die teenoorgestelde. Hierdie gebeurtenis vind ʼn aantal jare ná die begin van die Nuwe Testamentiese Kerk plaas, en nogtans verwerp Petrus die blote gedagte om onrein vleis te eet, en gaan selfs so ver om te betuig dat hy “nooit iets onheiligs of onreins geëet het nie” (vers 14).

Paulus het geskryf van “voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken” en “dit word geheilig deur die woord van God en die gebed” (1 Timoteus 4:3, 5). Die woord “geheilig” wat gebruik word om hierdie diere te beskryf, dra die tweeledige betekenis van “afgesonder van iets” sowel as “afgesonder vir iets”. Die rein diere is duidelik deur die Woord van God uitgesonder van alle ander diere en kan deur die mens as voeding gebruik word. Die vlees van die diere wat as voedsel uitgesonder word, moet met danksegging ontvang word deur diegene wat die waarheid ken en glo.

 Om hierdie redes leer die United Kerk van God onthouding van onrein vleis, gegrond op bogenoemde aanwysings en voorbeelde.

 Terug na Inhoud


Militêre Diens en Oorlog

Ons glo dat Christene deur die Gebooie van God verbied word om menselewens te neem—ongeag die omstandighede—en dat die dra van wapens teenstrydig is met hierdie fundamentele geloof. Daarom glo ons dat Christene nie vrywilliglik in militêre diens betrokke moet raak nie. Indien hulle verplig word om militêre diens te verrig, glo ons dat hulle in die beoefening van hulle geloof, behoort te weier om wapens te dra en dat hulle, sover moontlik, behoort te weier om hulle aan militêre gesag te onderwerp (Eksodus 20:13; Matteus 5:21-22; 1 Korintiërs 7:21-23; Handelinge 5:29).

God se weg is die weg van liefde, opoffering en mededeelsaamheid (Romeine 12:1, 10). God se lering omtrent die neem van ʼn mens se lewe word só in die Sesde Gebod opgesom: “Jy mag nie doodslaan nie” (Eksodus 20:13). Christus het ʼn groot beginsel aangehaal toe Hy gesê het, “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matteus 22:39). Paulus het gesê, “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie) (Romeine 13:10).

Jesus het verklaar “My Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as My Koninkryk van hierdie wêreld was, sou My dienaars geveg het...” (Johannes 18:36). God se geestelike Israel bestaan nie meer uit die twaalf fisiese stamme nie. Mense van alle nasies is nou in geestelike Israel ingeënt en is deel van die geestelike Liggaam van Christus (Galasiërs 3:26-29). As Christene, het God ons verlos “uit die mag van die duisternis (Satan), en oorgebring in die Koninkryk van die Seun van Sy liefde” (Kolossense 1:11-13).

Ons burgerskap is nou “in die hemele” (Filippense 3:20). Ons moet die voorbeeldige gedrag en optrede van Jesus navolg (1 Petrus 2:21; 1 Johannes 1:6). Christus het nie kwaad met kwaad vergeld nie. Toe Hy uitgeskel is, het Hy nie teruggeskel nie, en toe Hy gely het, het Hy nie met vergelding gedreig nie. Hy het leed verdra deur onregverdig te ly en dit geduldig verduur omdat dit Sy begeerte was om God te verheerlik (1 Petrus 2:19-23; 4:1, 13-16). Christus het geleer dat, indien ons vir ons broer kwaad word, dit tot sonde aanleiding kan gee (Matteus 5:21-22). Ons moet ons vyande liefhê en goed doen aan dié wat vir ons haat “... Maar Ek sê vir julle:  julle moet julle vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en vervolg” (Matteus 5:43-44). Ons mag ons ook nie wreek nie; die wraak kom God toe (Romeine 12:19).

Ons is nou reeds soldate van Christus, en Hy alleen bepaal wie die vyand is. Ons oorlogvoering as Christene vind in die geestelike arena plaas (Efesiërs 6:10-20). Ons voer ons worstelstryd nie volgens die vlees nie (2 Korintiërs 10:3-4), maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis (Efesiërs 6:12). Ons moet goeie krygsmanne van Jesus Christus wees (2 Timoteus 2:3-4). Dit is ons roeping in die lewe. ʼn Christen moet somtyds ʼn keuse uitoefen—indien daar botsende belange is—tussen die wette van die mens en die wette van Almagtige God. Wanneer dit gebeur, moet die Christen God se wette gehoorsaam (Handelinge 5:29; 1 Petrus 2:13-14), want Hy is die Hoër Gesag.

Die meeste lande se weermagte het hulle eie reëls en regulasies. ʼn Persoon in so ʼn weermag het nie vryheid om self te besluit wat hy of sy wil doen nie. Daarom is dit wys om te voorkom dat ʼn mens jouself in so ʼn situasie laat beland, aangesien ʼn lid van ʼn weermag onderdanig is aan gesag en daar mag dan van ʼn Christen verwag word om ʼn ander mens se lewe te neem. Die apostel Paulus ons moenie slawe van mense word nie (1 Korintiërs 7:23).

Om hierdie redes ondersteun die United Kerk van God sy lede se diensweiering van militêre en oorlogvoeringsdiens op gewetensgronde.

Terug na Inhoud


Beloftes aan Abraham